Deel

Louise se skuinskoek

akkreditasie
Louise Brynard van Calvinia bak haar skuinskoek met ’n “suurdeegplantjie” (aartappelskille, suiker en meel wat in water gegis het), want dit hou die skuinskoek langer vars, maar jy kan ook gewone kitsgis gebruik.

Die oorspronklike resep vra heuningmoer, maar dis deesdae haas onmoontlik om in die hande te kry.

Maak 5 dosyn | Voorbereityd 30 minute | Gaarmaaktyd 30 minute

Jy benodig

* 3 koppies suiker
* 2 koppies kokende water
* 250 g margarien (Wooden Spoon), gesmelt
* 2 eetlepels anyssaad
* 2-3 koppies koue water
* 2,5 kg koekmeel
* 1 afgeplatte teelepel sout 
* 2 teelepels kitsgis (’n 10 g-pakkie)
* kookolie vir diepbraai
* 2 eetlepels hardevet (die binnevet om ’n skaap se ingewande – opsioneel)

Só maak jy

1. Los die suiker in die kookwater op. Voeg die margarien, anys en 2 koppies koue water by, sodat die mengsel louwarm is.

2. Meng die meel, sout en gis. Gooi die suikerwater by die meel en meng totdat dit ’n sagte deeg vorm. Knie dit goed. As die deeg te styf voel, voeg bietjies-bietjies water by. Die deeg moet slap maar hanteerbaar wees.

3. Sit die deeg in ’n knieskottel en bedek met dit botterpapier. Maak dit dan styf toe met kleefplastiek. Daarna word die knieskottel in komberse toegedraai en oornag op ’n warm plek gelos. Teen die volgende oggend behoort die deeg dubbel die volume te wees. 

4. Knie die deeg af en sny lang worse uit die deeg. Rol elke wors uit tot 1½-2 cm dik en sny dit met diagonale snitte in stukke van 3-4 vingers breed.

5. Pak die skuinskoeke op ’n gesmeerde bakplaat en bedek dit met kleefplastiek en ’n doek. Laat die skuinskoek weer naby ’n warm stoof rys totdat hulle effens uitgepof is (ongeveer 30 minute). 

6. Verhit intussen die olie (saam met die vet as jy dit gebruik) in ’n wye, diep pot. Braai een skuinskoek om te toets of die olie al warm genoeg is – dis reg wanneer die skuinskoek dadelik begin dryf nadat jy dit in die olie geskep het. Let wel Die olie moet nie só warm wees dat dit rook nie, want dan sal die skuinskoek aan die buitekant te donker bak voordat dit binne-in gaar is.

7. Braai die skuinskoeke (soveel op ’n slag as wat gemaklik los kan saamdryf) aan die een kant tot goudbruin en draai dit dan om totdat die ander kant ook goudbruin en die deeg gaar is. Skep dit uit en dreineer dit op koerantpapier.