
Maak 1 brood | Voorbereityd 10 minute | Baktyd 60 minute
Jy benodig
• 1½ koppie koekmeel
• ½ koppie geel mieliemeel (of gebruik polenta)
• 2 teelepels bakpoeier
• 1 teelepel sout
• 1 eetlepel suiker
• 3 eetlepels gekapte roosmaryn
• 4 eiers, teen kamertemperatuur
• ½ koppie olyfolie
• 1 koppie karringmelk
• 1 blikkie (410 g) heelpitmielies, gedreineer
• ½ koppie geroomde mielies (cream style corn)
• ¼-½ koppie pikantrissies, gekap
• 1 koppie cheddar, gerasper
Só maak jy
1 Smeer ’n nr. 2-platboomswartpot (of gewone broodpan) met botter.
2 Meng al die droë bestanddele in ’n groot mengbak saam. Klits die eiers in ’n aparte bak saam met die olie en karringmelk, en roer dit dan deur die droë bestanddele.
3 Vou die twee soorte mielies, pikantrissies en die helfte van die kaas liggies daarby in. Skraap die beslag in die voorbereide pot uit en sprinkel die res van die kaas oor.
4 Krap ’n sirkel kole oop, sit ’n driehoek in die middel en sit die pot bo-op met ’n paar kooltjies op die deksel. Bak die brood vir 50-70 minute totdat ’n mes skoon uitkom wanneer jy dit insteek (jy kan dit ook vir dieselfde tyd oop in ’n oond van 170 °C bak.)
5 Gly ’n mes rondom die brood om dit los te kry van die pot, en laat dit effens afkoel voordat jy dit uitkeer.