Jy moet ’n yskas tot jou beskikking hê vir hierdie maklike resep. As dit ’n spesiale geleentheid is, neem 8 mooi klein flessies saam – een vir elkeen. Anders kan jy dit sommer in gewone blikbekers maak.
1. Kry ’n potjie met water op die gasstoof aan die gang. Plaas ’n groterige emalje- of metaalbak bo-op die bek van die pot, sonder dat die bodem aan die water raak.
2. Rasper die donkersjokolade in die bak en roer dit totdat die stomende water se hitte die sjokolade gesmelt het – pasop dat dit nie kook nie! Verwyder die bak van die kastrol.
3. Gebruik sommer die warm water in die potjie en maak lekker sterk moerkoffie.
4. Meng 8 eetlepels van die warm koffie met die suiker en 4 eetlepels likeur. Breek van die vingerbeskuitjies in stukke, doop dit vinnig in die koffie en pak ’n enkellaag in die bodem van elke flessie of blikbeker.
5. Meng die mascarpone, room en versiersuiker met die res van likeur in ’n bak met ’n houtlepel.
6. Verdeel die helfte van die mengsel tussen die houertjies, so ook die helfte van die gesmelte sjokolade. Doop nou nog ’n ronde beskuitjies in die koffie, herhaal die proses en eindig met ’n laag beskuitjies bo-op.
7. Verkoel dit vir 3 uur of oornag in die yskas.