Potbrood met kaiings

Jy benodig

  • 10 ml droë gis
  • 5 ml suiker
  • 10 ml heuning
  • 3 koppies louwarm water
  • 5 ml sout
  • 20 ml botter
  • 1 kg bruin broodmeel of volkoringmeel
  • 500 g varkvet of skaapvet
  • takkie roosmaryn

Só maak jy 

1 Los die gis, suiker en heuning op in 1 koppie van die louwarm water. Laat dit rus vir sowat 10 minute.

2 Sit die sout en botter in die oorblywende 2 koppies louwarm water.

3 Meng die gisoplossing met die bottermengsel.

4 Meng die meel by die louwarm mengsel in om ’n deeg te vorm. Knie die deeg goed deur vir minstens 5 minute. Sit die deeg op ’n warm plek om te rys.

5 Braai die vet goed uit in ’n warm, droë pan totdat die kaiings mooi bruin is. Skei die kaiings van die afgebraaide vet. Hou die kaiings eenkant.

6 Sodra die deeg in volume verdubbel het, knie jy dit af. Meng die uitgebraaide kaiings deeglik by sodat dit regdeur die deeg versprei is.

7 Spuit ’n vuurbestande pot se bodem en kante goed met kleefwerende sproei. Sit twee lae foelie op die bodem en smeer die foelie ook goed.

8 Sit die deeg in die pot en pa roosmaryntakkie bo-op die deeg. Sit twee lae gesmeerde foelie op die deeg en sit die deksel op.

9 Bak oor matige kole vir minstens 45 minute. Laat die brood ’n paar minute rus voordat jy dit op ’n plank uitkeer. Geniet dit met die smeer van jou keuse.

Hoendersosaties

Lewer 6 groot sosaties

Jy benodig

  • 1 liter natuurlike volroom-jogurt
  • 1 pakkie Kaaps-Maleise kerriemarinade
  • 1 pakkie Durban-kerrie-marinade
  • 10 ml fyn komyn
  • ½ koppie gekapte vars koljanderblare
  • 6 ontbeende hoenderborsies, met of sonder vel. Ek hou daarvan om die velletjies aan te los, dit help om die hoender sappig te hou. Sny die borsies in blokkies wat vir jou hanteerbaar is. Ek hou van ’n stewige blok van sowat 5 x 5 cm.
  • 1 elk groen, rooi en geel soetrissies, in 3 x 3 cm-blokkies gesny
  • uie, in 3 x 3 cm-blokkies gesny
  • sout en peper

Só maak jy 

1 Sit die jogurt, albei sakkies marinade, komyn en koljanderblare in ’n bak. Voeg die hoender by en laat vir ses uur (of oornag) marineer.

2 Ryg die hoenderblokkies om die beurt met die soetrissies en uie op sosatiestokkies.

3 Braai oor matige hitte en geur met sout en peper.

Kolegroente

Kap groente van jou keuse in groterige stukke. Maak ’n bak van drie lae foelie en pak die groente hierin. Geur met sout en peper, gooi 500 ml room oor en maak die foelie bo toe. (Jy kan ook gerasperde kaas bysit indien verkies.) Draai dit in nog lae foelie toe om seker te maak geen vloeistof loop uit nie. Sit dit vir 45-60 minute op die rooster oor matige kole.

Braaipaai vir poeding

Jy benodig

  • 2 rolle gekoopte blaardeeg
  • ingelegde vye, fyngekap
  • 125 g camembert, in lang repies gesny
  • pekanneute, grofgekap
  • fyn kaneel
  • heuning
  • botter, in klein blokkies gesny
  • ekstra heuning en neute om bo-oor te strooi

Só maak jy 

1 Maak seker die braairooster is regtig skoon, anders sit jou braaipaai vas en breek die hele spulletjie. Ek het ’n spesiale rooster net vir dié braaipaai. Die kole moenie meer baie warm wees nie – die suiker laat alles vining aanbrand. Maak die rooster heeltemal oop op ’n plat oppervlak en spuit goed met kleefwerende sproei.

2 Rol een hele rol blaardeeg oop op die rooster. Rangskik die vye en camembert na willekeur regoor die deeg. Strooi die neute en kaneel oor. Stip die botter so hier en daar oor die vulsel.

3 Sit die tweede rol blaardeeg versigtig oor die vulsel. Maak seker al die vulsel is binne en die deeg is nie geskeur nie. Maak die rooster versigtig toe.

4 Sit die rooster op die kole. Draai gereeld om om seker te maak die braaipaai word oral gelyk gaar. Haal af sodra dit oral mooi goudbruin is.

5 Keer versigtig op ’n plank uit en sny in porsies. Giet die heuning oor en besprinkel met die neute. Sit jou braaipaai net so of met room of roomys voor.