Voorgereg

Pikante garnale

(bedien 6)

Jy benodig

  • 36 mooi groot steurgarnale, skoongemaak, sonder die doppe maar stertjie behou
  • sout en peper

Vir die marinade

  • 1 k rum
  • 1 k lemmetjiesap
  • 1 k klappermelk/-room
  • ½ t brandrissievlokkies
  • sout en peper

Vir die sous

  • 1 k fyn klapper
  • 1 k fyn pynappel
  • 1 k suurroom
  • 1 lemmetjie se sap
  • dieselfde lemmetjie se gerasperde skil
  • knypie brandrissievlokkies
  • sout en peper

So maak jy

1. Meng al die marinade se bestanddele saam in ’n glasbak.

2. Marineer die skoongemaakte steurgarnale vir ten minste 2 ure in die yskas.

3. Maak intussen die sous deur al die sousbestanddele goed te meng. Laat dit rus tot net voor opdiening.

4. Net voordat jy die voorgereg wil opdien, braai die steurgarnale in ’n warm pan tot net gaar en mooi pienk.

5. Drup die sous oor of bedien dit in ’n bakkie saam met die garnale sodat elkeen sy garnale daarin kan doop volgens eie smaak.

6. Dien op saam met skyfies gesnyde lemmetjie – ek hou van die wangetjies!

 

Hoofgereg

Eenpothoenderereg

(bedien 6)

Jy benodig

  • een mooi groot hoender – as jy ’n werf-/plaashoender kan kry, des te beter
  • 1 blikkie klappermelk
  • vars lemmetjiesap
  • hoenderspeserye van jou keuse
  • botter

Vir die soet klapperrysmengsel

  • jasmynrys (genoeg vir 6 mense)
  • 1 blikkie klappermelk
  • water soos die resep op die ryspakkie aandui, minus die hoeveelheid van die klappermelk
  • sout
  • 1 e suiker
  • 1 k fyn klapper

Vir die glasuursel:

  • 100 ml rum
  • 100 ml heuning
  • 3 e bruinsuiker

So maak jy

1. Maak ’n plathoender deur die borsbeen regdeur te sny. Sit die hoender op ’n houtbord met die gesnyde kant na onder. Druk ferm daarop totdat jou hoender mooi plat en gelyk lê.

2. Meng die klappermelk en lemmetjiesap.

3. Smeer die hoender baie deeglik daarmee. Laat die hoender vir ongeveer ’n uur in die yskas rus.

4. Vryf die hoender oral goed met die speserye van jou keuse.

5. Smelt die botter tot amper bruin in ’n warm riffelpan.

6. Braai die hoender aan alle kante tot dit ’n mooi geroosterde kleur kry.

7. Meng die rysmengsel se bestanddele in ’n oondvaste bak. Plaas die hoender bo-op die rysmengsel en bak vir 1½ uur teen 180 °C met die deksel op.

8. Meng al die glasuursel se bestanddele saam in ’n potjie totdat die suiker gesmelt is.

9. Haal die deksel van die oondvaste bak af, verf die glasuursel oor die hoender en braai oop vir nog 30 minute. 

10. Bedien met geroosterde stukkies pynappel.

 

Nagereg

Mango fool

(bedien 6)

Jy benodig

  • 4 ryp mango’s, geskil en in blokkies gesny
  • 1 lemmetjie se sap en gerasperde skil
  • 3 t suiker
  • 45 ml rum
  • 1 k dik room
  • 1 e strooisuiker
  • 1 t vanieljegeursel
  • ¼ t neutmuskaat
  • eksta mangoblokkies vir garnering
  • mentblare vir garnering

So maak jy

1. Verpulp die mango, lemmetjiesap en -skil, suiker en rum tot ’n gladde puree. Hou eenkant.

2. Klop die room tot stywe punte vorm.

3. Voeg die vanieljegeursel, strooisuiker en neutmuskaat by die room. Klop goed.

4. Skep die mangopuree en room in afwisselende lagies In ’n mooi glas of glasbakkie. Begin by die mango en eindig met room.

5. Garneer met ekstra blokkies mango en mentblare. Geniet!