Boonop maak jy dit blitsvinnig, en jy kan heerlik speel met die vulsel: Enigiets van fyn avokado en kaas tot oorskietrafelvark en bone is heerlik daarin toegevou.

Jy benodig (genoeg vir 6)

  • 6 eiers
  • 2 eetlepels water
  • 1 eetlepel gekapte grasuie (of gebruik ’n knippie droë gemengde kruie)
  • 200 g sampioene, gegeur en mooi goudbruin gebraai
  • 2 koppies fyngesnyde oorskietbraaivleis, rafelvark of gepluiste hoender

Só maak jy

1. Klits die eiers en water saam, voeg die grasuie by en geur dit na smaak met sout en lekker baie varsgemaalde swartpeper.

2. Verhit ’n kleefvrye pan oor ’n gasvlam en smeer dit goed met olie. Gooi ’n klein bietjie van die geklitste eier in die pan en kantel die pan om die boom te bedek. Braai die eier vir ’n paar sekondes tot dit vorm behou.

3. Skep ’n lyntjie vulsel om die een kant en rol die omelet bo-oor die vulsel sodat dit ’n rolletjie vorm. Laat die omelet uit die pan glip en herhaal met die res van die bestanddele. Anders as met ’n gewone pannekoek word net die een kant gebraai.

Ry & Sleep sê: Vir jou is ’n kleefwerende Le Creuset-crêpepan dalk nie veelsydig genoeg om saam te vat kampplek toe nie, maar as jy enigsins plek het, pak hom in. Dié dun pannetjie is my geheime wapen vir vinnige roosterbroodjies, quesadillas en dié dun omelette. En jy kan dit sommer oor ’n gasplaat doen as die vuur sy tyd vat en die kroos se honger begin knaag.