
Luuks en lieflik
Jy benodig
(genoeg vir 8)
- 1-2 chorizoworsies, gekap
- 3 eetlepels olyfolie
- 4 hoenderborsfilette, in repe gesny
- sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
- 1 rooi brandrissie, fyngekap
- 1 teelepel borrie
- 2 knoffelhuisies, fyngedruk
- 1 groen soetrissie, ontpit en in repies gesny
- 1 rooi soetrissie, ontpit en in blokkies gesny
- 2 koppies risottorys (soos arborio)
- 1 blik (410 g) tamatie-en-uiesmoor
- 4 koppies aftreksel
- 2 lourierblare
- 12 steurgarnale, koppe en dermpies verwyder
- suurlemoenwiggies en vars pietersielie om voor te sit
Só maak jy
1. Braai die chorizo in die olie tot dit mooi bros is. Voeg die hoender by en braai dit tot dit oraloor goudbruin is. Geur die mengsel met sout en peper en voeg die brandrissie, borrie en knoffel by. Roer die soetrissie by en braai dit vir ’n nog 1-2 minute. Voeg dan die rys by en roer dit deur tot die korrels met olie bedek is.
2. Voeg die tamatie-en-uiesmoor, aftreksel en lourierblaar by. Krap die kole oop onder die potjie sodat die hitte baie matig is, en prut dit vir 15 minute met die deksel op. Roer alles deur en sorg dat daar genoeg vloeistof in die potjie is sodat dit nie droogkook nie. Proe aan die rys – wanneer jy oor 10 minute die steurgarnale byvoeg, moet dit nog al dente wees. (Gaarmaaktye en hitte verskil en jy wil nie pap rys hê nie.)
3. Pak die steurgarnale bo-op die geurige rys en stoom dit vir nog 5-10 minute of tot die steurgarnale net-net gaar is (wanneer hulle oranje verkleur). Sit dit voor met suurlemoenwiggies en vars kruie bo-oor gesprinkel.