Vir 4 | Voorbereityd 1 uur | Gaarmaaktyd 15 minute

Geurige maalvleisbolletjies en tuisgemaakte pesto binne-in ’n warm broodjie... Hemels, man!


Jy benodig

• 500 g lamsmaalvleis
• 1 ui, gerasper
• 1 groot knoffelhuisie, fyngekap
• 100 g sondroogtamaties, gedreineer en fyngekap
• 1 eier, geklits
• ’n knippie rissievlokkies
• ½ teelepel sout
• ’n knippie gemaalde swartpeper
• olyfolie vir braai
• klein pitabroodjies

VIR DIE PESTO

• ½ koppie vars mentblare, gekap
• ½ koppie vars pietersielie, gekap
• ¼ koppie heel amandels, grofgekap
• ¼ koppie olyfolie
• ¼–½ wiel fetakaas, gekrummel
• suurlemoensap na smaak

Só maak jy

1. Meng die maalvleis, ui, knoffel, tamatie en eier. Geur dit met rissievlokkies, sout en peper en verdeel dit in gholfbalgroot frikkadelle. Druk die frikkadelle effens plat en laat dit vir minstens 1 uur in die yskas staan.

2. Maak intussen die pesto: Meng die ment, pietersielie, amandels en olyfolie en pols dit saam in ’n voedselverwerker tot grof (’n handmenger werk ook goed). Roer die feta daardeur en geur dit met ’n bietjie suurlemoensap na smaak.

3. Verhit die olyfolie in ’n groot pan oor matige hitte. Braai elke frikkadel totdat die onderkant ’n korsie vorm en dit begin ferm raak. Draai dit om en braai dit vir nog ’n paar minute.

4. Rooster die pitabroodjies wanneer die frikkadelle byna gaar is, en sit dit dan alles saam voor met die pesto en ’n skeppie jogurt.