Platpot Hoenderpastei

akkreditasie
Rol net die vulsel toe in filodeeg en bak dit in ’n platboompot.

Vir 1 groot pastei 
Voorbereityd 20 minute
Baktyd 30 minute

Jy bak hierdie pastei ín ’n swartpot - jy rol net die vulsel toe in filodeeg en bak dit in ’n platboompot!

Jy benodig
2 knoffelhuisies, gekap
botter
1 knypie saffraan (opsioneel)
1 eetlepel kerriepoeier
1 teelepel kaneel
1-2 koppies gaar botterskorsieblokkies (sag gestoom of gerooster)
½ koppie macadamianeute of amandels
½-1 koppie tamatiepassata
10 groen olywe – ontpit en gehalveer
1 klaargeroosterde hoender, gevlok
½ koppie hoenderaftreksel 
½ koppie room (opsioneel)
sout na smaak
4-6 velle filodeeg, ontdooi

Só maak jy
1. Braai die knoffel en kruie in 4 eetlepels botter in ’n pan vir 5 minute. Voeg die res van die bestanddele by en laat dit prut. Geur die mengsel met sout en peper na smaak en laat dit vir nog ’n paar minute prut om die vloeistof te verminder. Die mengsel moet effens drooggekook wees. 

2. Rol die filodeeg oop en gebruik ’n kwassie om elke vel met botter te smeer voordat jy nog ’n vel daarop neersit. Plaas die velle in ’n gesmeerde platboompotjie en skep die vulsel daarop. Vou die deeg toe en bestryk dit met nog botter. Jy kan die kors met melk of ’n geklitse eier verf vir ekstra glans.

3. Sit die pot se deksel op en bak die pastei oor matige kole (’n skottelbraai werk goed ook goed) vir 20-30 minute totdat die kors goudbruin is. Jy kan dit ook sonder die deksel op in die oond bak teen 200 °C.

4. Laat die pastei eers ’n bietjie in die pot afkoel en dop dit dan uit. Sit dit in skywe voor saam met blatjang.

Wenk: Jy kan ook net die vulsel in ’n reghoekige oondbak skep en dit met ’n paar lae filodeeg bedek.