Deel

Maak jou eie poke-bakkie

akkreditasie
Sushi-slaaibakkies word “poke” genoem en is deesdae gewild. Hoewel sushi vrekmoeilik is om te maak, is hierdie slaaibakkies nie net fraai en gesond nie, maar ook so maklik soos rys kook!

Jy benodig

  • ½ ui
  • 4 eetlepels olie
  • 150 g sushirys (of basmati)
  • 300 g rou salm of tuna
  • 1 wortel
  • ¼ komkommer
  • ½ avokado, in skyfies gesny
  • ½ koppie vars ertjies, gestoom en afgekoel
  • 2 radyse, dungesny
  • 2 eetlepels sesamsaad
  • 1 vel nori, gesnipper
  • 2 eetlepels mayonnaise
  • 1 eetlepel sriracha-sous (of ander rissiesous)
  • 5 eetlepels sojasous
  • 1 eetlepel sesamolie
  • 4 eetlepels gekapte sprietuie

Só maak jy

1. Sny die ui in papierdun ringetjies en braai dit in die olie tot bros. Skep dit uit en hou eenkant.

2. Kook die rys volgens die aanwysings op die pakkie. Sprei die gaar rys dan op ’n bord in die yskas uit om vinnig af te koel.

3. Sny die vis in 15 mm-dobbelsteentjies en hou dit in die yskas.

4. Gebruik ’n aartappelskiller om die wortel en komkommer in dun linte te sny.

5. Sit die slaaibakkies aanmekaar deur ’n porsie rys in elke bakkie te skep en dan ’n paar linte wortel en komkommer, ’n paar blokkies vis, avokado, ertjies en radyse bo-op te rangskik. Rond dit af met ’n bietjie sesamsaad, nori en die gebraaide uie as garnering.

6. Meng die mayonnaise en sriracha-sous. Meng ook die sojasous, sesamolie en sprietuie. Sit die poke dadelik voor – elkeen kan na smaak van die souse oorskep.