Portugese hoenderborsies

akkreditasie
Foto: Myburgh du Plessis
Foto: Myburgh du Plessis
Ryg ’n paar borsies langs mekaar op ’n paar sosatiestokkies. Dis makliker om op die braai te draai en ná die tyd sny jy dit bloot in stukke en siedaar, ’n sosatie vir almal.

Jy benodig 

• 750 g hoenderborsfilette of ontbeende dye

• 10 vars lourierblare

PERI-PERI-SOUS

• 1 brandrissie

• 2 eetlepels gerookte paprika

• 6 knoffelhuisies

• 6 songedroogte tamaties

• 1 teelepel fyn koljander

• 2 teelepels fyn tiemieblaartjies

• ¼ koppie rooiwyn- of sjerrie-asyn

• ¼ koppie olyfolie

• ½ teelepel gemaalde swartpeper

• 1 teelepel sout

Só maak jy

1. Pols al die bestanddele vir die peri-peri-sous in ’n voedselverwerker. Verf dit oor die hoender en laat dit vir ’n paar uur marineer.

2. Ryg 3 tot 4 filette in die breedte op 3 sosatiestokkies: Die borsies is saam dus op 3 stokkies geryg. Druk hier en daar ’n lourierblaar in. Herhaal totdat al die borsies op stokkies is.

4. Braai die hoendersosaties oor matige kole vir 15-20 minute tot gaar. Draai dit gereeld en smeer die orige marinade dík aan.

5. Haal die sosaties van die rooster af en verwyder die middelste sosatiestokkie. Sny die vleis op die oorblywende 2 sosatiestokkies in die lengte deur sodat jy twee stokkies elkeen met sowat 4 hoenderstukkies het. Doen dieselfde met die res, en sit voor met ’n groenslaai.