
Kosassistent Tani Kirsten
Laat hy brand waar hy wil
Jy benodig
(genoeg vir 6)
- 2 koppies (250 g) broodmeel
- 5 g kitsgis
- 1 teelepel sout
- 1 teelepel suiker
- ½-¾ koppie louwarm water
- 600-800 g steak (kruisstuk of filet)
- roket- of slaaiblare om voor te sit
VIR DIE RISSIESOUS
- 1 klein rooiui
- 3 knoffelhuisies
- 1 klein rooi soetrissie, pitjies uitgeskraap
- 6-8 serranorissies
- 1 eetlepels olyfolie
- 1 eetlepel suiker
- 50 ml rooiwynasyn
- sap en fyngerasperde skil van 1 suurlemoen
- 1 teelepel droë origanum
- sout en swartpeper na smaak
Só maak jy
1. Maak die rissiesous. Pols die bestanddele vir die rissiesous in ’n voedselverwerker fyn en geur dit na smaak met sout en swartpeper. Gooi die sous in ’n glasflessie en hou dit in die yskas – dit sal vir minstens ’n maand hou.
2. Meng die meel, gis, sout en suiker in ’n groot bak saam en gooi twee derdes van die water by. Meng alles met jou hande saam tot dit ’n deeg vorm en gooi die res van die water bietjie-bietjies by tot dit hanteerbaar word.
3. Knie die deeg vir 10 minute tot dit mooi glad en elasties is. Bedek dit met kleefplastiek en laat dit vir ’n uur op ’n warm plek rys tot dubbel die volume.
4. Druk die deeg effens plat en verdeel dit in 12 bolletjies. Pak die bolletjies op ’n meelbestrooide werkoppervlak. Gooi ’n klam vadoek oor en laat dit weer rys tot dubbel die volume.
5. Braai die roosterkoeke oor lou kole en draai dit elke nou en dan om. Die roosterkoeke is gereed as dit hol klink as jy daarteen klop. Die geheim van ’n goeie roosterkoek is om die hitte laag te hou sodat hulle stadig gaar word.
6. Sny die vleis in 6 dun steaks en geur dit na smaak met sout en swartpeper. Braai dit oor baie warm kole vir 2 minute aan elke kant of tot dit gaar is volgens jou smaak.
7. Sit die gaar vleis in ’n bak en verf dadelik van die rissiessous daaroor. Bedek en laat dit vir 5 minute staan. Sny dan elke steak middeldeur en sit dit voor op ’n gebotterde roosterkoek met ekstra rissiesous en vars roketblare daarby.