Jy benodig (genoeg vir 8-10)

  • 1 varkblad van 2 kg
  • ½ koppie whisky (ons het Amerikaanse Honey Jack-whiskey gebruik)
  • ¼ koppie balsemiekasyn
  • 2 koppies warm water
  • 2 groot uie, grofgekap
  • 2 lourierblare
  • 1 koppie braaimarinade (ons het Woolies se Original BBQ Braai Marinade gebruik)
  • broodrolletjies en koolslaai om voor te sit

Só maak jy

1 Meng al die bestanddele in ’n swartpotjie saam en verhit dit tot kookpunt. Prut dit vir 3-4 uur tot die vleis murgsag is – gee die mengsel so elke dan en wan ’n roer en maak seker die vleis is altyd met vloeistof bedek.

2 Skep die blad uit die sous en laat dit effens afkoel. Verwyder die been en pluis die vleis met twee vurke. Skep die oortollige vet van die sous af en sit dit solank terug op die vuur sodat dit sonder ’n deksel kan prut en effens verdik.

3 Roer die vleis deur die sous en proe vir oulaas vir sout en peper. Om voor te sit, skep die vleis in vars broodrolletjies met ’n skeppie koolslaai daarby.

Ry & Sleep sê Vir die allerlekkerste koolslaai, meng 2 koppies gesnipperde kool-en-wortelmengsel met 4 gekapte sprietuie, ½ koppie romerige mayonnaise en ½ koppie Griekse jogurt. Roer dan versigtig daarby 1 ryp avokado wat in blokkies gesny is, ’n hand vol gekapte gesoute grondboontjies en, as jy lus voel, ½ koppie vet wit boontjiespruite. Dis mos nou verspotmaklik!