Jy benodig

• 1 kg ontbeende hoenderdytjies

• 4 knoffelhuisies, gekap

• 1 teelepel droë gemengde kruie

• ½ teelepel elk fyn koljander en komyn

• ’n ruim knippie gedroogte rissievlokkies

• 2 eetlepels olyfolie

• sout en peper na smaak

• 2 eetlepels vars suurlemoensap

• 2 groot rooiuie, geskil

• 200 g repiespek

Só maak jy

1. Meng die knoffel, speserye en olyfolie deur die hoenderstukke en marineer oornag in die yskas.

2. Haal die vleis uit die yskas, geur met sout, peper en suurlemoensap. Sny die ui in dik skywe en ryg dit om die beurt met hoenderstukke en spekrepies op een of twee lang metaalsosatiestokke.

3. Indien jou braai ’n aangedrewe draaispit het, kan jy die kebab daarop vir sowat ’n uur oor matige kole braai. Die vleis sal mooi goudbruin wees met ’n subtiele rookgeur. In ’n ketelbraai kan jy die kole na die kante toe skuif (vir die indirekte gaarmaakmetode) en ’n foeliebak heel onder in die skottel staanmaak en dan elke kebab regop (ja, regop!) staangemaak in ’n halwe ui daarin staanmaak. Sit die deksel op en braai dit vir sowat 40 minute.

Daarna kan jy die kebab vir nog 15 minute op sy kante braai en kort-kort draai om seker te maak dis alkant deurgaar. Bedruip tussendeur met die oorblywende marinade.

4. Kerf die kebab oor die lengte van die stokkies af en sit dit voor saam met slaai, suurlemoenwiggies en ’n jogurtsousie in tortillas of pitabrode.

Word deel van die Weg-wêreld
Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook