Jy benodig (genoeg vir 8)

  • 6 koppies kookwater
  • 1 ruim knypie droë
  • gemengde kruie
  • 3 koppies mieliemeel
  • ’n groot klont botter
  • 1 rol gebraaide boerewors, in hapgrootte stukkies gesny
  • 1 koppie gerasperde cheddar
  • 1 pakkie bruinuiesoppoeier
  • 2 koppies room

Só maak jy

1 Kook die water met ’n knippie sout en droë kruie, en klits die mieliemeel met ’n draadklitser by – maak seker dit vorm nie klonte nie. Draai die hitte laer en prut die pap tot dit dik is. Lees die aanwysings op die pakkie, want gaarmaaktye verskil, maar dit neem gewoonlik ongeveer 15 minute (en jy roer dit net af en toe). Sodra die pap lekker dik is, roer die botter by, proe of daar genoeg sout by is, en haal dit van die plaat af.

2 Verdeel die pap terwyl dit nog warm is, in eweredige porsies deur groot lepels vol op ’n snyplank of ander skoon werkoppervlak te skep. Laat dit afkoel tot jy daarmee kan werk met jou hande.

3 Druk elke porsie in die palm van jou hand plat, sit ’n paar stukkies boerewors en ’n hopie kaas in die middel en vorm weer ’n groot bol. Herhaal dit tot al die pap, wors en kaas op is. Rangskik die papbolle in ’n gesmeerde platboompot.

4 Klits die soppoeier en room tot glad en giet dit oor die pap. Bak dit oor die kole met die deksel op, met ’n paar kooltjies onder die potjie en ’n paar op die deksel (asof jy potbrood maak). Dit behoort binne 30 minute gaar te wees.

Ry & Sleep sê As die uiesop-en-roommengsel vir jou te min lyk, kan jy ekstra room byvoeg of ’n bietjie melk of aftreksel byklits. Óf bedek die gevulde papporsies met ’n tamatie-en-uiesmoor (of relish) en ’n strooisel gerasperde cheddar voor dit kole toe gaan.