Vir: 6 | Voorbereityd: 20 minute | Gaarmaaktyd: 1 uur 20 minute

Jy benodig

• 6 hoenderkwarte

• 1 eetlepel kerriepoeier

• sout en varsgemaalde peper na smaak

• 1 eetlepel meel

• 30 ml elk olyfolie en botter

• 1 eetlepel tamatiepasta

• 8 groot tamaties, gehalveer en ontpit

• 1 koppie room

• ½ koppie aftreksel

• 800 g gemengde groente in happiegroot blokkies (pampoen, soetpatat, uitjies, soetrissies, murgpampoentjies en sampioene is heerlik)

Só maak jy

1. Gebruik ’n skerp mes en sny sowat vyf diep diagonale kepe deur elke hoenderstuk se vel – dit help dat die geure goed intrek. Vryf dan die hoender in met die kerriepoeier, sout, peper en meel.

2. Verhit die olie en botter in ’n driepootpotjie en braai die hoenderstukke tot oraloor goudbruin. Voeg die tamatiepasta en tamaties by en meng deur. Giet die room en aftreksel by, sit die deksel op en laat dit vir 40 minute prut.

3. Roer die groente by en laat dit vir nog 40 minute (of tot die hoender en groente gaar is) prut. Hou die sousie dop – indien dit nie na jou sin verdik nie, kan jy die deksel vir die laaste 30 minute afhaal sodat die sous kan afkook.

WENK
Jy kan die potjie ook in die oond gaarmaak. Braai steeds die hoenderstukke vooraf in olie om dit te seël en bak dit dan saam met die tamaties, room en aftreksel vir 40 minute teen 180 °C in ’n oond met die deksel op. Voeg die groente by en bak dit vir nóg 40 minute sonder die deksel sodat die gereg kan kleur kry en die sous verdik. Jy kan ook kortpad vat met geblikte tamaties.