
Foto Myburgh du Plessis
Hierdie warm “slaai” het my mening oor kool op sy kop gekeer. Dit kan warm of selfs teen kamertemperatuur geniet word.
Die kool ís die sous werd, ja!
Jy benodig
(genoeg vir 4)
- 2 knoffelhuisies, fyngedruk
- 3 eetlepels olyfolie (plus ekstra om oor te sprinkel)
- 2 eetlepels rooiwynasyn
- 2 eetlepels gekapte pietersielie
- 1 klein rooikool, fyngesnipper
- 6 repe spek, in stukkies gesny
- sout en swartpeper na smaak
Só maak jy
1 Meng die knoffel, olyfolie, asyn en pietersielie saam en hou dit eenkant.
2 Sit die kool en spek op ’n stuk foelie en geur dit liggies met sout en peper. Drup ’n bietjie olyfolie oor en draai die foeliepakkie toe.
3 Braai die pakkie vir 15 minute of tot die kool én spek gaar en geurig is. Skeur die pakkie oop en drup van die knoffelolie oor. Sit dit voor terwyl dit nog effens warm is.
Weg Ry & Sleep sê
Die kool kan jy vervang met spinasie of enige ander groente van jou keuse.