
Vir 4 broodjies | Voorbereityd 15 minute plus rystyd | Gaarmaaktyd 30 minute
Jy benodig
- 5 en een derde koppies (800 g) broodmeel
- 1 koppie (250 ml) water
- 1 koppie (250 ml) room
- Een derde koppie heuning
- 3 eetlepels melkpoeier
- 2 eetlepels (30 g) kitsgis
- 2 eetlepels gemaalde sout (sien wenk)
- 2 eiers
- 4 eetlepels (60 g) botter, teen kamertemperatuur en in blokkies gesny
- soutvlokkies
Só maak jy
1. Voorverhit die oond tot 180 ºC. Meng die een derde koppie meel en die koppie water met ’n ballonklitser in ’n klein kastrolletjie. Laat dit vir 5 minute prut terwyl jy aanhoudend roer. Roer dan die room en heuning daarby in tot goed gemeng. Laat die mengsel eenkant afkoel tot louwarm.
2. Gebruik ’n staanmenger met ’n deeghaak en plaas die orige 5 koppies meel, melkpoeier, gis en sout daarin. Meng en voeg dan die eiers en die louwarm roommengsel daarby. Knie dit vir 5 minute op ’n matige spoed. Meng dan die botter een blokkie op ’n slag daarby. Bedek die deeg met plastiek en laat dit eenkant staan om tot dubbel die volume te rys.
3. Gebruik 4 groot koppies of leë blikkies (’n muffinpan met ekstragroot gate sal ook deug). Spuit die binnekant met ’n kleefwerende sproei of smeer deeglik met ekstra botter. Knie die deeg af en vorm balle wat die bakkies waarin jy dit bak ¾ vol maak. Sny nou elke bol in kwarte en druk die stukke losweg saam in die bakkie – moenie die broodjies se bokant gelyk maak nie. Bedek elke broodjie met kleefplastiek en laat die deeg vir 1 uur rys totdat dit die borand van elke houertjie vol gerys het.
4. Verf die bokant van die bolletjies liggies met melk en besprinkel dan met soutvlokkies. Bak die broodjies vir 25-35 minute of tot goudbruin en uitgerys. (Jy kan ook kyk of ’n toetspen skoon uitkom.) Sit die broodjies dadelik warm voor met botter.
WENK: Ek verkies om groot korrels sout van ’n goeie gehalte self vir die resep te maal. Indien jy fyn tafelsout wil gebruik, sal jy net sowat die helfte nodig hê.