Foto Ed O’Riley

Jy benodig (genoeg vir 4)

  • 8 stukke hoender (ons het dytjies en boudjies gebruik) 
  • 4 middelslag-aartappels, gewas 
  • 1 eetlepel botter 
  • suurlemoenwiggies en suurroom om voor te sit

VIR DIE MARINADE 

  • 2 eetlepels cajun-speserymengsel 
  • 2 eetlepels olyfolie 
  • 1 teelepel sout, opgelos in ¼ koppie kookwater en afgekoel 
  • 2 knoffelhuisies, gekneus 
  • 3 tiemietakkies 
  • 1 eetlepel worcestersous

Só maak jy

1 Meng al die marinadebestanddele saam in ’n groot Ziplock-sakkie. Sit die hoender in die marinade en vryf dit ’n slag of wat goed deur. Druk al die lug versigtig uit die sakkie en verseël dit. Sit dit in die yskas tot benodig.

2 Prik die aartappels oraloor met ’n vurk, smeer botter daaroor, geur dit met sout en peper en maak elke aartappel sorgvuldig toe in ’n dubbele laag foelie met die blink kant na binne.

3 Laat die hoender kamertemperatuur bereik. Dreineer die meeste van die marinade en druk die hoender effens droog. Braai dit oor matige kole tot goudbruin en gaar.

4 Pak terselfdertyd die aartappels in ’n bed van warm kole. Die aartappels moet gereeld gedraai word, en hou hulle fyn dop – dit is reg wanneer die skilletjie liggies kleur kry terwyl die binneste mooi sag bak.

5 Sit die hoender voor met die suurlemoen­wiggies. Sny die aartappels oop sodra hulle sag is, en sit dit voor met ’n lepeltjie suurroom.

Ry & Sleep sê Gebottelde beetslaai is heerlik saam met die hoender en aartappels.