Hierdie viskoekies kan gemaak en in die yskas gehou word vir vier dae voordat jy dit braai, of jy kan dit vries om later te braai.


Lewer 8-12 viskoekies | Voorbereityd 20 minute plus rustyd | Gaarmaaktyd 10 minute


Jy benodig

• 12 baba-aartappels
• ¼ koppie grasuie (chives), gekap
• ¼ koppie dille, gekap (of gebruik basilieblare)
• 4 eetlepels vissous
• 200 g warmgerookte salm
• sout na smaak
• swartpeper na smaak
• 1 eier, geklits
• 1 koppie meel
• 4 eierwitte, geklits
• 2 koppies broodkrummels
• olie vir braai


VIR DIE SUURLEMOENSOUS

• 4 eiergele
• 2 suurlemoene se sap
• ’n knippie sout
• ’n knippie gemaalde swartpeper


OM VOOR TE SIT

• gebakte of geposjeerde eiers
• 1 pak spinasieblare, liggies gestoom


Só maak jy

1. Kook die baba-aartappels heel met die skil tot baie sag, dreineer die water en versprei dit op ’n vadoek sodat die stoom kan ontsnap en die aartappels droog raak. Laat dit eenkant om af te koel.

2. Kap die afgekoelde aartappels in blokkies en meng dit dan met die kruie, vissous en salm. Ek gebruik my hande – die mengsel moet grof bly om die koekie tekstuur te gee, maar deeglik genoeg gemeng word sodat dit kan bind. Proe die mengsel en voeg sout of nog vissous en peper na smaak by.

3. Roer nou 1 eier deur die mengsel. Verdeel die mengsel in ewe groot bolletjies en vorm koekies wat ongeveer 7 cm breed is. Hou ’n bakkie skoon water byderhand en maak jou hande nat wanneer jy die koekies vorm – dit help dat dit minder vassit. Jy kan ook meel gebruik. 

4. Plaas die koekies oop op ’n bord in die yskas vir ten minste 2 uur, of oornag. Die koekies moet ferm raak sodat dit nie uitmekaar val wanneer jy dit braai nie.

5. Doop elke koekie om die beurt eers in die meel, dan in die 4 eierwitte en dan in die  broodkrummels.

6. Maak die sous Plaas die eiergele en suurlemoensap in ’n kastrolletjie oor lae hitte. Klits die sous totdat dit lig en verdik is – ek gebruik ’n elektriese handklitser. Die geheim is om die hitte laag te hou en deurlopend te klits, anders maak jy dalk per ongeluk roereier.

7. Vlakbraai die koekies in ’n pan in 5 mm warm olie. Wag tot ’n goudbruin korsie onder vorm voordat jy die koekies omdraai. Bedien die koekies met die suurlemoensous. Voeg ’n gebakte eier en gestoomde spinasie daarby as die honger knaag.