
Genoeg vir 8 | Voorbereityd 20 minute | Gaarmaaktyd 20 minute
Bedien hierdie groente-en-maalvleis pasteie met ’n lekker sterk atjar of piccalilli.
Jy benodig
• 1 ui, gekap
• 1-2 eetlepels kerriepoeier
• 2 eetlepels olyfolie
• 300 g maalvleis
• 1 kaneelstokkie
• 1 steranys
• 2 kardamompeule
• 2 teelepels borrie
• 2 teelepels gemaalde koljander
• 2 teelepels gemaalde komyn
• 1 teelepel mosterdsaadjies
• 2 knoffelhuisies, gerasper
• 2 wortels, gekap
• 2 murgpampoentjies, gekap
• 100 g broccoli, gekap
• 100 g blomkool, gekap
• 1 mielie, pitte losgesny
• ½ koppie groenteaftreksel
• sout en peper na smaak
• 2 x 400 g blaardeeg
• 1 eier, geklits
Só maak jy
1. Braai die ui en kerriepoeier in die olyfolie tot geurig. Voeg die maalvleis en al die speserye daarby en roerbraai vir ’n paar minute tot goudbruin.
2. Roer die knoffel, wortel, murgpampoen, broccoli, blomkool en mieliepitte deur die maalvleis. Voeg die aftreksel by, sit die deksel op en laat dit vir 10 minute prut totdat die groente gaar maar nog ferm is. Verwyder die deksel vir die laaste paar minute – die mengsel moet redelik droog wees. Proe, en geur na smaak met sout en peper en voeg nog kerriepoeier by indien nodig. Verwyder die kaneelstokkie en speserypeule. Laat die mengsel afkoel.
3. Sny die deeg in reghoeke. Skep van die vleismengsel op die een helfte van die deeg, maar los ’n ½ cm randjie reg rondom skoon. Vou die oopkant bo-oor die vulsel en druk die rante op mekaar vas met ’n vurk. Plaas die pasteie in die yskas en voorverhit die oond tot 220 °C.
4. Spuit ’n bakplaat met ’n kleefwerende sproei en pak die pasteie daarop. Verf die pasteie met eier en bak vir sowat 20 minute totdat die pasteie uitgepof en goudbruin is.