Mmm-malva!

Jy benodig

(genoeg vir 6)

  • 4 eiers
  • 2½ koppies ligbruin suiker
  • 3 eetlepels gesmelte botter
  • 2½ koppies melk
  • 3 eetlepels heuning
  • gerasperde skil en sap van 1 suurlemoen
  • 3 teelepels suurlemoensap
  • 2½ koppies koekmeel
  • 1½ teelepel bakpoeier
  • 3 teelepels koeksoda
  • ½ teelepel sout

VIR DIE SOUS

  • 2 koppies lemoensap (vars of gekoop)
  • 1/3 koppie ligbruin suiker
  • 1 koppie room (gebruik vars óf rakmelk)

Só maak jy

1. Maak vuur en kry ’n hopie kole gereed. Sit ’n braaidriehoek oor die kole.

2. Smeer intussen ’n platboompot van ongeveer 25 cm goed met botter. Klits die eiers en suiker goed saam tot die mengsel dik en romerig is. Voeg dan die botter, melk, heuning en suurlemoensap en -skil daarby.

3. Meng die meel, bakpoeier, koeksoda en sout goed saam en vou dit by die eiermengsel in. Krap nou die beslag uit in die gesmeerde pot. Sit die pot oor ’n enkellaag matige kole, sit ’n deksel op wat styf pas, en skep drie kleinerige kole bo-op die deksel. Bak die poeding vir ongeveer 45 minute of tot ’n toetspen skoon uitkom.

4.Maak die sous: Prut die lemoensap en suiker totdat dit met die helfte afgekook het en begin dik word. Roer dan die room daarby in. Steek die poeding met ’n vurk vol gaatjies en gooi die sous oor terwyl dit nog warm is. 

Weg Ry & Sleep sê
Jy kan enige vars sitrus soos nartjies of lemoene gebruik – en sit gerus soveel van die gerasperde skil by as wat jy verkies. As jy kamp, werk die gebottelde sap ewe goed.