Foto: Shelly Christians

Vir sowat 45 koekies

Voorbereityd 20 minute

Gaarmaaktyd 10 minute per bakplaat

Jy benodig

• 250 g sagte botter

• 1 koppie versiersuiker

• 1 ekstra-groot eier

• ¼ koppie kakao

• 2 koppies koekmeel

• 1 teelepel bakpoeier

• ’n knippie sout

• 1½ koppie klapper

• sjokoladesmeer

Só maak jy

1 Voorverhit die oond tot 180 °C. Verroom die botter en suiker saam met houtlepel (’n elektriese klitser is vinniger, maar nie noodsaaklik nie). Voeg die eier by en klop tot glad en romerig. Meng dan al die oorblywende bestanddele behalwe die sjokoladesmeer by om ’n sagte, gladde deeg te vorm.

2 Rol teelepels vol deeg in balletjies en rangskik dit op gesmeerde bakplate. Jy kan ook die plate met bakpapier uitvoer. Druk met die punt van ’n houtlepel se steel ’n holtetjie in die middel van elke koekie (versigtig, jy wil nie ’n gatjie regdeur druk nie!).

3 Bak die koekies vir sowat 10 minute of totdat hulle net-net vorm behou. Haal die plate uit die oond en laat dit op ’n draadrakkie afkoel.

4 Vul die afgekoelde koekies se holtes met sjokoladesmeer en bêre in ’n lugdigte houer.

WENK

Sit ’n vel waspapier tussen die lae koekies in die lugdigte houer. Dit keer dat die sjokoladesmeer aan ander koekies begin vassit. Jy kan ook die sjokoladesmeer met gewone sjokolade vervang. Dis dan nie nodig om ’n holtetjie en elke koekie te druk nie: Doop gewoon die afgekoelde koekies halflyf in gesmelte sjokolade.