Foto: Shelley Christians

Vir sowat 12 bakkies

Voorbereityd 10 minute plus verkoeltyd

Gaarmaaktyd 12-15 minute

Jy benodig

• 170 g sagte botter

• 1 koppie karamelsuiker

• 1 eier

• 3 ml vanieljegeursel

• 2 koppies koekmeel

• 1 teelepel bakpoeier

• 2 eetlepels vlapoeier

• 70 g sjokolade, fyngekap (of selfs gerasper)

• gesmelte sjokolade en roomys vir opdiening

Só maak jy

1 Verroom die botter en suiker saam tot lig van kleur (jy kan ’n houtlepel of ’n elektriese klitser gebruik). Meng die eier en vanieljegeursel by. Sif die meel, bakpoeier en vlapoeier by, voeg die sjokoladesplinters by en meng alles goed met jou hande tot ’n gladde deeg. Vorm die deeg in ’n plat skyf, vou dit styf toe in waspapier en laat rus ’n halfuur in die yskas.

2 Voorverhit die oond tot 180° C. Strooi ’n bietjie meel op ’n skoon werkoppervlak en rol die verkilde deeg daarop uit tot sowat 5 mm dik. Wikkel die uitgerolde deeglaag met ’n paletmes van die oppervlak af los om seker te maak dit kleef nêrens vas nie.

3 Spuit die agterkant van ’n muffinpan goed met kleefwerende sproei. Sny dan met ’n groot koekiedrukker sirkels deeg uit – groot genoeg om elke “boggel” van die omgekeerde muffinpan te bedek. (Ek het ’n koekiedrukker met ’n 12 cm-deursnit gebruik, maar jy kan ’n kleiner óf groter drukker gebruik solank die sirkels mooi oor die muffinboggels pas.)

4 Bak die koekies vir 12-15 minute of tot gaar. Laat dit dan eers effens afkoel voordat jy dit versigtig van die muffinpan aftel en op ’n draadrakkie uitpak om heeltemal af te koel en hard te word.

5 Verf die koekiebakkies se binne-kant met gesmelte sjokolade (dit keer dat hulle te vinnig sag word) en skep ’n paar lepels van jou gunstelingroomys daarin.

WENK

Dis noodsaaklik dat die sjokoladesplinters báie fyn is. Groot stukke sjokolade sal wanneer die koekies gebak word, smelt en krake in die bakkies agterlaat. As die bakkies na te veel moeite klink, kan jy ook net die deeg eenvoudig in balletjies rol, op bakplate rangskik en met die agterkant van ’n vurk effens platdruk voordat jy dit in die oond sit.