Ek gebruik lamsniertjies en voeg dit teen die einde van die gaarmaakproses by, en ja, jy kan die niertjies natuurlik net weglaat, maar jy soek mos iets nuuts, of hoe? 

Vir: 8 | Voorbereiding: 1 uur | Gaarmaaktyd: 2½ uur | Oondtemperatuur: 180 ºC 

Jy benodig

• ½ koppie koekmeel

• 2 eetlepels vleisspeserye (jou gunsteling)

• sowat 1 kg beesskenkelskywe, in groot blokke gesny

• 2 eetlepels elk botter en olie

• 1 ui, gekap

• 1 koppie vleisaftreksel

• 1 blik (410 g) gekapte tamaties

• 1 eetlepel elk botter en olie

• 150 g lamsniertjies

• 1 rooi soetrissie, ontpit en gekap

• 2 knoffelhuisies, fyngekap

• 250 g knopiesampioene, middeldeur gesny

VIR DIE DEEG

• 1 koppie melk

• 1 koppie olie

• 2 groot eiers

• 1 koppie bruismeel

• 2 teelepels bakpoeier

• ’n stewige knippie sout

Só maak jy 

1. Gooi die koekmeel en speserye in ’n plastieksak, voeg die blokkies vleis by en skud die sakkie dan sodat die vleis oraloor met meel bedek word. Skud die oortollige meel af. Verhit die botter en olie en braai die vleis in sarsies bruin. Skep elke sarsie uit en herhaal die proses totdat alles bruingebraai is.

2. Roer die ui by die pot en braai dit vir ’n paar minute. Roer dan die aftreksel en tamatie by en skep al die vleis terug in die pot. Prut dit met die deksel op vir sowat 1½ uur.

3. Sny die niertjies middeldeur. Sny met ’n skerp kombuisskêr al die wit stukkies binne-in weg en trek ook die vlies aan die buitekant af. Sny nou elke halwe in drie stukke. Smelt die tweede hoeveelheid botter en olie saam in ’n ander pot en braai die soetrissie, knoffel en sampioene bruin. Voeg die niertjies by en braai dit blitsvinnig tot dit oraloor bruin is. Skep nou die roerbraai by die vleis in die hoofpot. Oordeel of die sous genoeg of te veel is (kook dit af, indien nodig) en proe vir sout en peper.

4. Nou vir die deeg: Klits die melk, olie en eier saam tot net-net gemeng. Sif die droë bestanddele saam en meng die eiermengsel geleidelik by tot dit ’n slap deeg vorm. Giet dit oor die vulsel en versier die rou deeg met ’n strooisel vars kruie of uieringe. Bak dit vir 30 minute in ’n oond van 180 º tot goudbruin en gaar.

WENK
Die vulsel kan ook gebruik word vir padkospasteitjies. Gebruik gerus klaarbereide blaardeeg pleks van die deeg hiervoor.