Maak 4 ruim porsies | Bereidingstyd: 30 minute plus hang- en marineertyd | Gaarmaaktyd: 20 minute

Foto: Ed O'Riley

Jy benodig

• 8 hoenderstukke (boudjies en dytjies)

• sap van 1 suurlemoen

• sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

VIR DIE MARINADE

• 1 koppie dubbeldik jogurt

• ¼ koppie Mother-in-law-masala

• 1 teelepel mosterdpoeier

• 2 eetlepels olie

• 1 stuk vars gemmer van 2 cm, geskil en fyngerasper

• 2 knoffelhuisies, geskil en gerasper

• 1 teelepel paprika

• ’n knippie rissiepoeier (of na smaak)

• 1 eetlepel borrie

• 1 kerrieblaartakkie (opsioneel)

Só maak jy

1. Begin deur die jogurt in ’n moeseliendoek te skink en dit dan vir sowat 1 uur oor ’n vergiettes te laat hang – dit is sodat die wei kan uitdrup en die jogurt verdik. (Dié stap is opsioneel, maar dit verbeter die marinade!)

2. Trek die hoender se vel versigtig af (hou dit eenkant vir later) en sny twee of drie diep kepe in elke stuk – dit verkort die gaarmaaktyd en beteken die marinade kan ook beter intrek. Meng die res van die marinadebestanddele met die jogurt, vryf die hoenderstukke goed daarmee in en laat dit vir 1 uur in die yskas staan.

3. Sodra jy die vuur aansteek, kan die hoender uit die yskas kom en solank kamertemperatuur bereik.

Geur die vleis met die suurlemoensap, sout en peper en braai dit stadig oor taamlike warm kole tot deurgaar. Dit neem gewoonlik sowat 20 minute, afhangend van die hitte van die kole en die grootte van die stukke hoender.

WENK

Braai sommer die hoendervel in ’n gietysterpannetjie tot dit mooi bros is. Dreineer die vel op kombuispapier, geur dit met ’n knippie sout en krummel dit oor die hoenderstukke óf oor gestoomde rys as ’n bykos.