Vir 2 (dis nou ás jy kan deel!)

Voorbereityd 20 minute

Gaarmaaktyd sowat 15 minute

Jy benodig

  • 1 groot T-beensteak (sowat 800 g)
  • 1 teelepel worcestersous

Vir die geur

  • 2 eetlepels seesoutvlokkies
  • 2 teelepels reënboogpeperkorrels (swart, wit en pienk)
  • 1 teelepel Sichuan-peperkorrels (jy sal dit by Woolies of ’n Chinese kruiewinkel kan kry)
  • 1 gedroogde lourierblaar, verkrummel

Só maak jy

1 Sny enige oortollige vet van die steak af en sny dit dan in blokkies. Hou eenkant.

2 Stamp die sout en peper saam fyner en vryf die stuk steak mildelik daarmee in. Laat staan die vleis teen kamertemperatuur terwyl jy solank vuurmaak.

3 Steakbraaimetodes verskil, maar hierdie werk vir my: Pleks van ’n dun lagie olie gebruik ek die vleis se eie vet. Verhit ’n gietysterpan oor die kole (of ’n gasvlam) tot baie warm. Braai dan die vet uit die blokkies om die pan se bodem te smeer. Skep die kaiings uit en braai die steak in die gesmeerde pan eers aan die een kant totdat dit nie meer aan die pan vassit nie en ’n goudbruin kors gevorm het (nie meer as 4 minute nie) voordat jy dit omdraai en net so lank aan die ander kant braai. Hierna gee ek die vetrand ’n kleurtjie deur die vleis met ’n braaitang regop te hou.

4 Laat nou die steak op die been staan – in die pan of direk op die rooster. Voel ná ’n paar minute aan die oog (die middel van die grootste stuk) van die vleis. As dit baie sag is, is die steak nog nie gaar genoeg nie en kan jy dit vir nog ’n paar minute aan elke kant oor koeler kole braai.

Maar wees versigtig: Die vleis moenie oorgaar wees nie én dit moet nog rus nadat dit van die rooster afkom. Persoonlike voorkeur, die braaier se aanvoeling en die dikte van die vleissnit speel ook ’n rol.

Verf ’n lekseltjie worcestersous aan die steak en laat dit rus voordat jy dit van die been af in peuselhappies sny.