Foto: Myburgh du Plessis | Kosassistent: Merrill Buckley

Vir: 6 | Voorbereityd: 15 minute | Kooktyd: 2 uur 

Die beste snit hoender vir potjiekos is boudjies en dytjies met die vel aan.

Jy benodig

  • 2 kg hoenderporsies
  • sout en swartpeper na smaak
  • 2 eetlepels olyfolie
  • 2 uie, gekap
  • 200 g chorizo, in skyfies gesny
  • 2 soetrissies, in repe gesny
  • 2 knoffelhuisies, fyngekap
  • 1 eetlepel gerookte paprika
  • 1 eetlepel gedroogde tiemie
  • 8 baba-aartappels, middeldeur gesny
  • 2 blikkies (400 g elk) gekapte tamaties

Só maak jy

1. Geur die hoender na smaak met sout en swartpeper, en braai dit vinnig bruin in die olyfolie.

2. Skep die hoenderstukke uit en hou eenkant. Verminder die hitte onder die pot. Sit die ui in die pot en braai dit stadig tot sag en geurig.

3. Roer dan die chorizo, soetrissie, knoffel, paprika en tiemie by en roerbraai vir 5 minute.

4. Voeg die aartappels by die pot, pak die hoender bo-op en bedek met die tamaties. Sit ’n styfpassende deksel op en laat prut dit oor stadige kole vir 90 minute. Die pot sal aanbrand indien die hitte te intens is – sorg dat die pot net so nou en dan ’n sagte borrel maak en nie voluit kook nie. Die sous kan verdun word met ’n bietjie hoenderaftreksel of water.