
Hiert, jou potjierol
Jy benodig
(maak 12 broodjies)
- 6 gerookte spekrepies
- 4 eetlepels seesoutvlokkies
- 1 teelepel fyngestampte koljander
- ’n ruim knippie peper en droë origanum
- 24 snye gewone witbrood
- sagte botter om te smeer
- 3 tamaties, in dik skywe gesny
- 1 rooiui, in dun skywe gesny
- 1 groot blok (400 g) wit cheddar, gerasper
- 1 klein blok (250 g) mozzarella, gerasper
Só maak jy
1. Braai die spek in ’n pan tot bros en dreineer dit op kombuispapier. Breek die drooggebraaide spekrepies in klein stukkies en gooi dit saam met die sout, koljander, peper en origanum in ’n voedselverwerker of speserymeultjie. Maal dit dan tot dit soos ’n growwe rub lyk.
2. Smeer 12 snye brood met botter. Draai dit dan om en bou die broodjie op die ongesmeerde kant: Pak tamatieskywe op al die snye, sprinkel lekker baie van die speksoutmengsel oor, en verdeel laastens die ui en kaas tussen die broodjies. Smeer die res van die brood met botter en pak dit met die botterkant na bo op die vulsel.
3. Rooster die braaibroodjies stadig oor baie matige kole – braai dit stadig en draai dit gereeld om sodat dit mooi goudbruin buite is, met die kaas aan die binnekant deurgesmelt en die ui gaar en sag en geurig. Sit die broodjies dadelik voor terwyl dit nog lekker warm is en die kaas mooi drade trek.