Deel

Steak-en-bierpastei

akkreditasie
Jy maak die pastei se vulsel in ’n potjie en braai die deeg op ’n rooster oor die kole. Pasteityd!

Die Iere het hulle eie weergawe van Nasionale Braaidag. Die hele Ierland kom op St. Patrick-dag tot stilstand vir een groot partytjie. Elke enkele Ierse kroeg sit ’n fantastiese pastei van steak en mout voor.

Jy benodig:

  • 2 sopies olyfolie
  • 1 kg steak (dikrib is die beste, andersins kruissnit; in blokkies van 2 × 2 cm gesny)
  • 2 teelepels sout
  • 1 teelepel swartpeper
  • 1 sopie koekmeel
  • 1 ui (fyngekap)
  • 1 wortel (geskil en fyngekap)
  • 2 selderystokkies (fyngekap)
  • 1 sopie gemengde kruie (roosmaryn, tiemie, pietersielie; of ½ sopie droë gemengde kruie)
  • 1 blikkie of bottel moutbier (stout beer; ± 400 ml)
  • 250 g knopiesampioene (in die helfte gesny)
  • 1 pakkie skilferkorsdeeg (400 g, heeltemal ontdooi)

 Só maak jy:

1 Maak die pastei se vulsel: Verhit die olie in ’n potjie op ’n warm vuur. Voeg die vleisblokkies, sout en peper by en roer. Strooi die meel oor die vleis en roer om die meel eweredig te versprei. Die bodem van die pot kan dalk ’n bietjie droog lyk, maar moet jou nie te veel daaroor bekommer nie. Braai die vleis in die pot vir sowat 5 minute totdat dit effe bruin is.

2 Voeg die gekapte uie, wortel, seldery en kruie by en braai vir nog 5 minute.

3 Gooi die mout by. Roer om enige taai stukkies onderin die pot los te wikkel en kry die mengsel aan die prut. Sit die deksel op en laat dit vir 15 minute prut.

4 Voeg die sampioene by, sit die deksel op en laat dit vir 1 uur op ’n lae hitte prut. Hou die hitte laag – net ’n paar kole en geen vlamme onder die pot nie.

5 Rol die skilferskorsdeeg oop wanneer die vulsel in die pot amper reg is. Nou kan jy kies: sny die deeg óf in die vorm van die bakkies waarin jy die pastei gaan voorsit óf in vierkante, wat jy bo-op die vulsel in borde of bakkies gaan sit. Braai die deegvormpies in ’n geoliede toeklaprooster vir omtrent 20 minute oor matige kole. Draai die rooster gereeld totdat die deeg goudbruin en bros is. Dit sal aanvanklik lyk of die deeg begin smelt; ontspan, dit sal gou harder en maklik hanteerbaar word mits jy aanhou om dit versigtig oor die hitte om te draai.

6 Wanneer die vulsel reg is, haal jy die potjie van die vuur af en roer deeglik. Die vloeistof behoort nou dik en blink te wees. Indien nie, laat dit vir ’n paar minute sonder die deksel prut sodat dit kan afkook en verdik. Proe en voeg sout en peper na smaak by.

7 Sit voor in bakkies of borde en sit die gebraaide kors bo-op. Jy kan ook die pastei saam met kapokaartappels voorsit as jy lus het.

Wenk
Al is Guinness die wêreldbekende voorbeeld van moutbier, is dit glad nie die enigste een nie. Die resep sal net so lekker smaak met ’n plaaslike gunsteling soos Castle Milk Stout.