Deel

Steak met skop

akkreditasie
’n Gebraaide steak is ekstra-lekker as hy met ’n geurige sous voorgesit word... én nog ’n eier bo-op kry.

Jy benodig

(genoeg vir 4) 

• 2 steaks van 500 g elk 

• 4 eiers

Vir die marinade

• 1/3 koppie sojasous 

• ¼ koppie worcestersous 

• 1/3 koppie suurlemoensap 

• ½ koppie olyfolie 

• 1 eetlepel droë knoffelvlokkies 

• 1 eetlepel gemengde droë kruie 

• 1 eetlepel rissiesous 

• ½ teelepel witpeper

Vir die sous

• 2 eetlepels botter 

• 1 eetlepel gekneusde peperkorrels 

• 2 teelepels ingemaakte groenpeperkorrels 

• 1 lourierblaar 

• 1 knoffelhuisie, fyngedruk

• ¼ koppie brandewyn 

• 1 koppie room 

• sout na smaak

So maak jy

Meng die bestanddele vir die marinade en marineer die steaks vir sowat 2 uur buite die yskas totdat dit kamertemperatuur bereik. Gebruik ’n plastiekhouer met ’n deksel (of gooi ’n vadoek oor die marineerbak).

Maak die brandewynsous: Verhit die botter in ’n potjie totdat dit begin bruin word. Soteer al die peperkorrels, lourierblaar en knoffel vir ’n minuut lank in die botter – maak seker jy brand nie die knoffel nie. Gooi die brandewyn by en kook die sous vir sowat 2 minute sodat die meeste van die alkohol kan verdamp. Meng die room by en laat dit stadig kook tot die sous verdik. Geur die sous na smaak met sout.

3 Braai die steaks oor baie warm kole totdat hulle so gaar is soos jy dit verkies.

4 Smeer 4 holtes van ’n kolwyntjiepan met botter en breek die eiers daarin. Bak die eiers op die rooster totdat die geel gaar is na jou smaak.

5 Verdeel die steaks in vier porsies en sit elke steak voor met peperbrandewynsous en ’n eier bo-op.

Weg Ry & Sleep sê:
Dik, verouderde kruisskyf (rump) met ’n stewige stukkie vet aan is ’n goeie keuse vir dié resep.