Steakbroodjie met bloukaassous

akkreditasie
Myburgh du Plessis
Dié pikante bloukaasssous werk ook as ’n slaaisous of oor gebraaide hoender.

Vir 4 | Voorbereityd 10 minute | Gaarmaaktyd 20 minute

Jy benodig

VIR DIE BROODJIE

  • 2 stukke (300 g in totaal) ontbeende ribfilet (rib-eye steak)
  • 2 soetrissies
  • olyfolie
  • 4 panini’s
  • botter of mayonnaise
  • agurkies, uieringe en blaarslaai

VIR DIE SOUS

  • 125 g bloukaas (of na smaak)
  • 1 koppie pietersielie
  • 2 sprietuie
  • 1 knoffelhuisie
  • 4 eetlepels witwynasyn
  • 1 teelepel Dijon-mosterd
  • 125 g roomkaas
  • olyfolie

Só maak jy

1 Smeer die steak en soetrissies met olyfolie, en braai eers die soetrissie op ’n rooster oor die kole totdat die skil swart en die vleis sag is. Trek die skilletjie af en sny die soetrissie in repe.

2 Maak intussen die sous deur die helfte van die bloukaas saam met die res van die sousbestanddele te versap. Indien jy nie ’n versapper het nie, kap die pietersielie, sprietuie en knoffel fyn en meng dit dan met die res van die sousbestanddele. Proe, en as jy kans sien vir nog bloukaas, krummel die res van die kaas by die sous – dit gee ’n interessante tekstuur.

3 Braai die steak vir sowat 4 minute aan ’n kant en laat dit vir 5 minute rus. Sny die vleis in dún skyfies.

4 Sny die panini’s oop en smeer botter of mayonnaise daarop. Pak ’n laag soetrissie op elke broodjie, gevolg deur ’n laag vleisskyfies en ’n ruim skeppie bloukaassous. Garneer die broodjie met ’n paar skyfies agurkie, blaarslaai en uie, indien jy dit verkies.

WENK:

Vervang die bloukaas met 1-2 ansjovisfllette en sit ’n klein rissie by. Die roomkaas kan ook weggelaat word, maar dan moet jy meer olyfolie by die sousmengsel gooi.