Deel

Thai-erige hoenderpasteie

akkreditasie
Dié pasteie het net so ’n skramse ondertoon van ’n Thaise geurtjie – die kinders sal ook daarvan hou.

Vir 6 | Voorbereityd 1 uur | Gaarmaaktyd 25 minute

Jy benodig

6 hoenderborsies aan die been, mét die vel

2 koppies hoenderaftreksel

1 ui, gehalveer

2 eetlepels mielieblom

4 teelepels groenkerriepasta

1 blik (410 g) klappermelk

1 suurlemoen se sap en gerasperde skil

sout en peper na smaak

2 rolle blaardeeg

So maak jy

• Voorverhit dit oond tot 200 °C. Laat die hoenderborsies aftreksel en ui vir sowat 30 minute baie stadig in ’n kastrol met die deksel op prut totdat die vleis gaar is en die vog wat uitloop as jy dit met ’n mespunt steek, helder is.

• Skep die hoender en ui uit, maar behou die vloeistof in die pot. Vlok die vleis, gooi bene, vel en ui weg en skep die vleis terug in die pot.

• Skep ’n paar eetlepels van die vloeistof uit, meng die mielieblom daarmee tot goed opgelos en roer dit dan saam met die kerriepasta en klappermelk by die hoender in. Laat dit vir 10 minute sonder die deksel prut sodat die sousie kan verdik.

• Voeg die suurlemoensap en -skil by. Proe, en geur dit met sout, peper en nog kerriepasta na smaak.

• Smeer 6 pasteipannetjies met botter en sny die deeg in groot genoeg vierkante sodat daar omtrent ’n vingerbreedte deeg oor ’n pannetjie se rand hang wanneer jy dit met die deeg uitvoer. Druk die deeg saggies teen elke pannetjie se bodem en kante vas.

• Skep die pannetjies vol vleismengsel, lê nog ’n vel deeg bo-op neer en knyp elke pastei se deegrandjies deeglik toe. Verkoel die pasteie vir 30 minute in die yskas, verf die bokante dan met melk en bak dit vir sowat 25 minute totdat die deeg bruin en uitgepof is.

• Laat die pasteie afkoel voor jy hulle uit die pannetjies keer, in waspapier toedraai en in die piekniekmandjie pak. Vat ’n bottel goeie growwe blatjang of rissiesous saam vir ekstra lekkerte