
Die Toring van Tortilla
Jy benodig
(genoeg vir 8)
- 2 eetlepels kookolie
- 350 g maalvleis
- 1 ui, fyngekap
- 2 knoffelhuisies, fyngedruk
- 2 teelepels peri-peri-vryfmengsel (dis nou rub – ons het NoMu s’n gebruik)
- 1 eetlepel tamatiepasta
- 1-2 blikke (410 g elk) rooi niertjiebone, gedreineer
- 1 blik (410 g) gekapte tamatie
- ’n klont botter om die pot te smeer
- 4 meeltortillas 200 g (ongeveer 1 koppie) kaassous
- 1 koppie gerasperde cheddar
- skyfies jalapeñorissies om oor te sprinkel (opsioneel)
Só maak jy
1. Verhit die olie in ’n pot en braai die maalvleis saam met die ui en knoffel tot mooi goudbruin – breek die vleis met jou spaan op sodat die maalvleis nie groot klonte het nie. Geur met die peri-peri of jou gunsteling-braaispesery. Roer die tamatiepasta, bone en tamatie by en prut die mengsel vir 20 minute.
2. Smeer ’n gietysterpan of swartpotjie – een waarin jou tortillas knus sal pas – met botter. Sit ’n tortilla onderin die pan en skep ’n groot lepel vol van die maalvleis bo-op, drup ’n lepel of wat kaassous oor en sit nog ’n tortilla bo op. Herhaal die lae totdat al die bestanddele opgebruik is.
3. Sprinkel die kaas oor die tortillas, sit ’n deksel op die potjie en bak dit vir 20 minute met die deksel op tot deurwarm en borrelend (sit ’n paar kole onder die potjie én op die deksel). As jy hou van ’n byt, kan jy ook ekstra skyfies jalapeñorissie oorsprinkel.