Maak 3 kg wors


Hierdie resep is deur Marie Viljoen ontwikkel en dit is bobaas. Dit is nie ’n vetterige boerewors nie; braai hom dus tot net-net gaar en sappig.

 
Jy benodig

• 3 eetlepels heel koljandersaad
• 2½ eetlepels sout
• 1 eetlepel varsgemaalde swartpeper
• 2 teelepels gemaalde wonderpeper (ook piment, of allspice)
• 2 teelepels garam masala
• ¾ teelepel gemaalde naeltjies
• 1 teelepel neutmuskaat
• 2 teelepels suiker
• ½ koppie bruinasyn
• 6-7 varkderms
• 900 g beesvleis
• 900 g lamsvleis
• 900 g varklies

Só maak jy

1. Rooster die heel koljandersaad vir ’n paar minute in ’n droë pan terwyl jy die pan skud sodat dit nie aanbrand nie, maar begin spring. Skep dit onmiddellik uit.
2. Maal die koljandersaad saam met die ander droë speserye fyn in ’n koffiemeul, óf gebruik ’n stamper en vysel.
3. Meng nou die speserye met die vleis en laat dit oornag in die yskas staan.
4. Maal die vleis mediumgrof en stop dit in die voorbereide derms. Hierdie wors kan ook vir tot drie maande in die vrieskas hou.

WENK: Vir boerewors beveel Marie aan dat jy die vleismengsel mediumgrof maal, maar jy kan dit aanpas as jy van ’n growwer tekstuur hou.