Maak 2½ liter | Voorbereityd 30 minute | Gaarmaaktyd 90 minute

Hierdie resep behoort aan Annatjie Du Plessis. Sy bottel ryp tamaties aan die einde van die seisoen en gebruik dit heeljaar om enige maalvleis, pasta of potjiekos op te kikker. Pak ’n paar bottels in vir die kampterrein en gebruik net dít pleks van ander souse en geurmiddels.

Jy benodig

  • 4 kg tamaties
  • 1 kg uie, grofgekap
  • 3 koppies witasyn
  • 750 g-1 kg suiker
  • 2½ eetlepels sout
  • 2 eetlepels kerrie (opsioneel)
  • 1 eetlepel borrie (opsioneel)
  • 1 eetlepel droë mosterd
  • 3 eetlepels mielieblom (Maizena)

Só maak jy

1. Sny ’n kruisie in die tamatie waar die stingeltjie was. Sit die tamaties in ’n groot, diep bak en gooi kookwater oor tot al die tamaties bedek is. Ná ’n paar minute behoort jy die skilletjies van die kruisie af maklik te kan aftrek. Sny die tamaties dan in kwarte.

2. Kook intussen die ui, 2 koppies asyn, suiker, sout en speserye vir ’n halfuur saam in ’n pot.

3. Gooi al die tamaties by die mengsel in die pot, en laat dit vir nog sowat 30 minute prut. Meng die mielieblom met die res van die asyn, skink dit by die sous, roer die mengsel goed deur en kook dit vir nog 20 minute.

4. Skink die warm sous dadelik in warm gesteriliseerde flesse.

Annatjie se wenk
Jy kan die kerrie en borrie weglaat en dit met knoffel en rissie vervang – geur dit dan na smaak met roosmaryn of ’n bietjie basilie.