Vir 4 | Voorbereityd 15 minute | Gaarmaaktyd 20 minute


Skorsies in klappermelk oor die kole vertroetel, snoepgrootte frikkadelle met vars gemmer... Dít klink mos nou na ’n wenner! Die speserye kan jy tuis al fynmaak en in ’n sakkie saamneem na waar julle kamp.


Jy benodig

• 4 skorsies, middeldeur gesny
• 1 blik (410 g) klapperroom of -melk
• 2 knoffelhuisies
• 4 cm vars gemmer
• ½ rooiui
• ½ rooi brandrissie
• ’n hand vol koljanderblare
• 500 g varkmaalvleis
• 2 eetlepels vissous (of gebruik sojasous)
• ½ teelepel sesamolie
• ’n klont botter
• Chinese braaisous (of enige braaisous met ’n byt)


Só maak jy


1. Pak die skorsiehalwes in ’n platboompot en skink die klapperroom daaroor. Bak die skorsies oor matige kole (met ’n paar kole op die deksel) tot sag. Draai hulle halfpad deur om sodat die skil boontoe wys.

2. Gooi die heel knoffel, gemmer, ui, rissie en koljanderblare in ’n voedselverwerker en verpulp tot ’n growwe smeer. Of kap al die bestanddele baie fyn.

3. Krap die smeer by die maalvleis en geur die mengsel met vissous en sesamolie. Knyp ’n stukkie  van die mengsel af, braai dit in ’n warm pan en proe – voeg nog vissous of geurmiddels na smaak by die res van die mengsel, indien nodig. Rol dit in klein bolletjies.

4. Smelt die botter in ’n pan en braai die frikkadelle daarin. (Jy kan dit ook om ’n sosatiestokkie vasdruk en só braai.) Wanneer die frikkadelle amper gaar is, verf dit met ’n paar lepels braaisous en braai dit vir nog so ’n minuut.

5. Sit die frikkadelle saam met die sagte skorsies voor. Dis ’n lekker happie vir grootmense en sommer aandete vir die kinders.


KORTPAD: Roer die gaar frikkadelle deur ’n gekoopte groenkerriesous en sit dit voor op kitsnoedels.