Deel

Vispakkies met paprika en suurlemoen

akkreditasie
Foto Myburgh du Plessis
Foto Myburgh du Plessis
Vis smaak uitstekend wanneer jy dit só in ’n pakkie gaarmaak.

Viskriklik lekker!

Jy benodig

(genoeg vir 4)

  • 2-4 klein heel visse, skoongemaak – ons het snapper gebruik
  • 1 soetrissie, gekap
  • 1 suurlemoen, in dun skyfies gesny
  • ½ koppie botter, in blokkies gesny
  • 1 eetlepel paprika
  • 1 teelepel rooipeper
  • 1 teelepel gerookte rissievlokkies
  • 1 teelepel droë origanum
  • 2 knoffelhuisies, fyngedruk
  • sout en swartpeper na smaak

Só maak jy

1 Was die vis met skoon water. Druk dit droog met kombuispapier en sit elke vis in die middel van ’n stukkie bakpapier neer.

2 Druk die soetrissie en suurlemoen in die vis se buikholte. Geur die vis met die speserye en druk ’n paar blokkies botter in elke vis se buikholte.

3 Draai die vis toe in die bakpapier en dan ook losweg in foelie. Bak dit vir ongeveer 10 minute in ’n ketelbraai oor matige kole met die deksel op.

4 Skeur die vispakkies oop op ’n bord en sit nog ’n blokkie botter by voor jy dit voorsit.

Weg Ry & Sleep sê
Die baktyd hang af van hoe groot die vis is – loer ná 8 minute vir ’n klein vis en ná 15 minute vir ’n groter een.