Lewer: 2 koppies salsa | Voorbereityd: 5 minute | Gaarmaaktyd: 30 minute


Jy benodig 

• 1 soetrissie
• 4 knoffelhuisies
• 1 jalapeño- of serrano-rissie
• ½ ui
• 3 ryp tamaties
• ½ teelepel gerookte paprika
• sout na smaak

Vir die aartappels
• 1 kg baba-aartappels
• 1 eetlepel growwe sout
• 1 eetlepels olyfolie
• 2 eetlepels roosmarynnaalde

Só maak jy

1. Halveer die soetrissie krap die pitjies uit, pak die knoffel en rissie binne-in die holtes en plaas die soetrissiehelftes oor matige kole. Pak ook die ui en die tamaties op die braairooster, sit die deksel op en laat die groente vir sowat 15 minute braai tot sag en effens swart gebrand. 

2. Tel die groente van die rooster af en pols alles met ’n handvoedselverwerker in ’n klein kastrol fyn. Geur die salsa met sout en verdun dit effens met water indien nodig. Hou dit in die kastrol eenkant op die rooster warm.

3. Vryf die aartappels met die sout, olyfolie en roosmaryn in, pak dit in ’n enkellaag op foelie en draai dit toe. Los die foeliepakkie vir sowat 30 minute oor matige kole totdat die aartappels sag is. Draai die pakkie gereeld om sodat die inhoud eweredig kan gaar braai. Sit die warm aartappels saam met die salsa voor.