Foto Ed O’Riley

Jy benodig (genoeg vir 4-6)

  • 4-6 gerookte ontbytworsies
  • ’n klont botter
  • 1 teelepel olyfoli­e
  • 6 eiers
  • 1 koppie room

Só maak jy

1 Sny ’n paar kepe in elke wors en braai hulle in ’n gietysterpan met die botter en olie tot hulle oraloor mooi goudbruin is.

2 Klits die eiers en room saam, geur dit met sout en peper na smaak en giet die mengsel in die pan saam met die worsies. Maak seker die vet in die pan is mooi versprei voor jy die eier bygooi – sodat dit nie op plekke vassit nie.

3 Hou die hitte laag en braai die eiers rustig. Gebruik elke nou en dan ’n vou-aksie met jou spaan om die gaar eier aan die onderkant en rand van die pannetjie te lig sodat rou eier onder die gaar eier kan ingly. Wanneer die frittata halfpad gaar lyk, hou op met inmeng, sit ’n deksel op die pan en laat die frittata op sy eie gaar bak.

4 Haal die pan van die hitte af, laat dit vir ’n paar minute staan en sny die frittata in skywe. Sit dit voor met vars brood óf lekker bros roosterbrood.

Ry & Sleep sê Hiedie gereg is reeds ryk, maar as jy wil, kan jy nes met ’n omelet speel met ’n strooisel gerasperde kaas, gekapte sprietuie en aan die einde vars tamatie. Vir ’n ligter ete kan jy die room met melk vervang, maar die tekstuur gaan dan minder ferm wees en jy kan uiteindelik sit met gourmet-roereier... wat natuur-lik ook lekker is op brood!