
Mongolië is een van die laaste plekke op aarde waar die nomadiese leefstyl nog ’n tradisionele instelling is. Dit is ’n land van kontraste waar jy woestyntonele, oop grasvlaktes en pragtige varswatermere op jou reis ervaar. Dit is ook die land met die kleinste bevolkingsdigtheid ter wêreld.
Dit is die majestueuse en uitgestrekte leegte van die landskap wat reisigers lok om dié besonderse bestemming te besoek. G’n wonder dit staan bekend as die “land van blou lug” nie, want hier kry jy 250 sonnige dae per jaar. Die winter raak egter bitterlik koud met die temperatuur wat op plekke tot -40 ºC kan daal.
Een van die wêreld se bekendste woestyne – die Gobi – is ook hier te vinde. Dit lê in die suide van Mongolië, en vergeleke met die Sahara en die Namib het die Gobi minder sandduine. Dit is eerder ’n groot afgeleë gebied met gruisvlaktes en klipperige bulte.
Mongolië is ook ’n land met ’n ryk en oeroue geskiedenis. In die jaar 1200 het dié land se bekendste leier, Genghis Khan, ’n groot invloed op die wêreldgeskiedenis en die Mongolryk gehad. Sy kleinseun was die stigter van wat vandag China is.
Jy kan hierdie betowerende bestemming van agter die stuur van ’n 100 Series Land Cruiser op ’n 4x4-selfrytoer verken. Reis saam met Live the Journey en ry grondpad langs na al die mooiste plekke wat die land jou bied.
Jy kry die kans om die Gobi met al sy geheime – en berge, mere, canyons en sandduine – te verken. Gaan maak ook ’n draai by die Khuvsgulmeer (bekend as die “Pêrel van Mongolië”), ’n klompie pragtige en aktiewe Boeddhiste-monnikekloosters, die Yolyn Am-canyon in die Gurvan Saikan-bergreeks en die Orkhonvallei, wat in 2004 tot ’n Unesco-wêrelderfenisgebied verklaar is.
Gedurende jou reis gaan jy ook die Genghis Khan-standbeeldkompleks besoek. Hier is die grootste perderuiterstandbeeld ter wêreld, wat met 250 t staal bedek is. By die kompleks sal jy meer leer oor Mongolië se geskiedenis voor jy die oorblyfsels van Genghis Khan se hoofstad Karakorum, besoek en dan ’n draai gaan maak by die nabygeleë ruïne van die Erdene Zuu-monnikeklooster.
Die toer strek oor 18 dae (17 nagte), en jou Cruiser én brandstof is ingesluit; dus hoef jy jou nie daaroor te bekommer nie. Die voertuie is toegerus met ’n daktent vir twee mense en grondtente vir bykomende passasiers. Jy bring 6 nagte in daktente deur, 3 nagte in ’n hotel en 8 nagte in tradisionele Mongoliese joertkamp. Alle etes is ingesluit.
Die konvooi het ’n ondersteuningsvoertuig met ’n motorwerktuigkundige, asook ’n veldkok en ’n Engelse gids vir die hele toer. Al jou toltariewe, toegangsgeld by nasionale parke en vervoer van en na die lughawe is ingesluit, asook jou kamptoerusting (wat uit ’n opvoustoel, kampmatras, slaapsak en kussing bestaan).
Wanneer?
7 - 25 Augustus 2019
Koste:
$5 155/R72 170 per persoon* vir twee mense per voertuig
$4 695/R65 730* persoon* as jy 'n passasier in die toervoertuig is
$2 920/R40 880* per kind jonger as 12 jaar
*Pryse mag verskil afhangend van die wisselkoers wanneer jy jou bespreking maak.