Ons reis na die noorde van Botswana begin in die Khama Rhino Sanctuary in Sentraal-Botswana waar ons die eerste nag deurbring voordat ons ry na die granietrotseiland Lekhubu vir ’n nag onder die sterre op die Makgadikgadipanne.

Die volgende oggend kan dié wat vroeg opstaan, koffie en beskuit geniet onder kremetarte voordat die groep met ’n tweespoorpad vertrek al op die rand van die soutpanne om ons 4x4-vernuf te toets. Die groep geniet ’n ligte piekniekmiddagete op pad na die volgende kampterrein 30 km buite Maun.

Die kampplek is langs die Botetirivier waar ons twee dae deurbring en die geleentheid kry om die uitgestrekte Okavangodelta en sy ekostelsel te verken, asook die plaaslike markte of, as jy wil, in die kamp ontspan voor ’n laatmiddagrit op die Boteti.

Ons volgende stop is in die Khwai-omgewing, noord van Moremi. Dié gebied is bekend vir sy wildlewe, mooi landskap en volop voëlspesies.

Foto: Verskaf

Tussen die Moremi-wildreservaat en die buitewyke van die Chobe-nasionale park is goeie wildkykritte gewaarborg.

Olifante, jagluiperds, hiënas en wildehonde hou hier om elke draai. Hier is geen heinings nie’ dus is dit ’n uitmuntende plek om foto’s van wilde diere te neem. ’n Uitstappie op ’n mokoro is ingesluit in die toerpakket.

Ná Khwai mik ons deur Savuti verder noord tot by ons volgende bestemming, die Chobe-vloedvlakte na aan Ngoma. Hoewel ons in net een dag deur die park ry, sien ’n mens ongelooflike wild en teen die tyd dat ons laatmiddag by ons kampplek kom, sorg die gesoute Bhejane-span vir ’n heerlike ete langs die vuur.

Foto: Verskaf

Die groeplede hoef net die Savuti se stof af te was en aansit. Hier is ’n magdom natuurskatte om langs die Choberivier te verken, en dis die lekkerste teen jou eie pas. Die gebied is bekend vir sy groot troppe grootvoete en buffels, en die kamp waar ons tuisgaan, is na aan die Ngoma-ingang van die Chobe- nasionale park.

Ons kan dus op eie stoom die ryk wildlewe verken, asook die vloedvlaktes langs die Chobe waar voëlkyk altyd goeie belonings lewer.

Die groep se eindbestemming lê in die noordooste: Kasane. Daar is geen heinings tussen die dorp en die park nie; dus kan jy sommer wild deur die dorp se strate sien drentel!

Foto: Verskaf

En natuurlik sou die reis nie volledig wees sonder ’n riviervaart op die Chobe nie! Die groep verken die rivier se eilande en kanale teen sononder terwyl die diere die laaste keer kom water drink vir die dag.

Wat moet ek weet?

Datums en koste 27 Maart–6 April 2022; R18 250 per volwassene; 50%-afslag vir kinders jonger as 10

Hoe lank? 11 dae, 10 nagte

Begin Khama Rhino Sanctuary

Einde Kasane

Bhejane verskaf

• Tentblyplek

• ’n Spesialisgids

• Tweerigtingradio’s in alle voertuie

• Drie etes elke dag

• Toegangstariewe tot alle parke

• 4x4-bystand indien nodig

Wat jy moet bring

• Jou eie voertuig – ’n 4x4 is noodsaaklik (jy betaal self vir brandstof)

•  Reisversekering

• Koeldrank, drankies en versnaperinge

• Persoonlike artikels soos medikasie, sonskerm, ’n verkyker, ’n kamera, ens.

• ’n Kampstoel

Kontak bookings@bhejane.com of 082 724 0442 vir ’n volledige reisplan en toerdatums. Besoek bhejane.com vir nog inligting.