Met die dae wat weer langer word en temperature wat styg, gaan Suid-Afrikaners hopelik binnekort weer begin koers kies na ons land se ongelooflike oorde, natuurreservate en kampplekke.

Hier is tien items wat die nuwe kampseisoen ’n selfs beter ervaring sal maak.

Naturehike-hangmat

Knip ’n uiltjie Hoekom jou geld mors op van die goedkoper aanbiedinge as jy weet hierdie een gaan jou ’n leeftyd hou?

Hy word van hout, seil en tou gemaak en kom met twee verstelbare kettings waarmee jy hom presies kan laat pas op die plek waar jy wil ontspan.

Hy is 3 m lank, 900 mm op sy breedste punt en weeg skaars 2,5 kg.

Prys R2 200 by NatureHike.

Ry & Sleep sê As jy ooit in die voorry gesak het, moet jy hom liefs vermy, want sy dragewig is maar 100 kg.

First Ascent- kompakte donskombers

Lekker slaap Hierdie kombers is nie so warm en bedompig soos ’n gewone een nie, maar danksy die dons pantser hy jou behoorlik teen die koue van die nag.

Hy is liggewig en kompak en vou op in ’n sakkie wat spesiaal in die nylonbuitelaag gemaak is.

Hy is 2 m lank, 1,35 m breed en weeg net 620 g.

Prys R2 300 by Outdoor Warehouse.

Ry & Sleep sê Dink aan dié kombers as ’n goeie plaasvervanger vir jou heerlik snoesige duvet by die huis.

Tentco Senior Safari Deluxe-koepeltent

’n Dak oor jou kop Jy kan die plaaslike vervaardiger Tentco nie veel vertel wanneer dit by die maak van tente kom nie, en die Safari Deluxe is dalk net die opgradering wat jy nodig het om van jou volgende kamp ’n selfs beter ervaring te maak.

Dié outjie word gemaak vir enige toestande en die seil is ’n samestelling van 330 GSM- polikatoen en seil.

Dan is sy grondseil van 540 GSM-PVC en die raamwerk van (roesbestande) trekvaste staal.

Hy het drie vensters.

Prys R5 600 by Camp & Climb.

Ry & Sleep sê Danksy Tentco se omvattende waarborg kry jy ook gemoedsrus vir jou geld.

Petzl Actik Core- herlaaibare koplig

Kyk waar jy loop Die dae word dalk langer en die nagte korter, maar snags gaan jy steeds iets nodig hê om te sien waar jy loop.

Hierdie koplamp van die vervaardiger Petzl is nét die antwoord.

Die koplig het twee helderheidsverstellings: 130 lumens en 450 lumens. V

olgens die vervaardiger sal die koplig op die hoër verstelling vir 2 uur werk, terwyl die laer verstelling vir ’n yslike 130 uur sal skyn.

Prys R1 194 by Camp & Climb.

Ry & Sleep sê Dis ’n herlaaibare lamp, maar in ’n noodgeval kan jy ook drie AAA- batterye gebruik.

Seaflo- draagbare 20 liter-kamptoilet

Vat jou troon en trek, Ferreira Laai hom agterin die bakkie ingeval die natuur dalk iewers langs die pad roep, of hou hom in jou wa as jy net vir die nag staan en nie lus voel om die kassettoilet die volgende oggend uit te spoel nie.

En as jy in die bos kamp, is hy ewe tuis in jou tent. Hy hou 13 l spoelwater, 20 l afval en kan ’n gewig van tot 150 kg dra danksy sy duursame ABS-plastiekkonstruksie.

Leeg weeg hy net minder as 5 kg.

Prys R995 by Camp & Climb.

Ry & Sleep sê Hierdie toilet is veral geskik vir mense wat selfonderhoudend kamp, want hy het nie ’n waterbron nodig nie.

National Luna-12 Kg-ysmaker

Komkommerkoel Jy wil nie die gevaar loop om ’n skemerkelkie te skink en dan besef jou ys is op nie.

Vermy eerder so ’n situasie en kry vir jou een van hierdie draagbare ysmakers deur die plaaslike vervaardiger National Luna.

Hy spog met ’n afwerking van vlekvrye staal, ’n ysemmer wat jy kan uithaal, en aanwysers wat die watervlak aandui en wanneer die ys gereed is.

En jy hoef nie lank te wag voor jy kan skink nie: Dit vat enigiets van 6-13 minute voor jou water verander in ys. Tjorts!

Prys R2 494 by Camp & Climb.

Ry & Sleep sê National Luna stel voor jy gebruik minstens ’n 1 000 W-omskakelaar as jy die ysmaker op ’n battery laat loop.

Naturehike-droësak

Waterbestand As jy graag watersport doen, maar verkies om nie jou kosbare besittings by jou staanplek agter te los nie, is hierdie sak van NatureHike net die antwoord.

Jy kan jou foon en sleutels met gemoedsrus daarin bêre terwyl jy op jou kajak roei, want die waterdigte materiaal is gelamineer vir bykomende beskerming.

Jy kan die droësak soos ’n rugsak dra én strand toe vat, want hy’s ook bestand teen sand en selfs sneeu.

Prys R320 by NatureHike.

Ry & Sleep sê As blou nie die skakering is vir jou nie, kan jy byvoorbeeld ook kies tussen turkoois, pers of oranje.

Gränsfors-byl

Maak ’n paar kappe Die Sweedse maatskappy Gränsfors Bruk, wat al langer as ’n eeu byle maak, het met die Skandinawiese oorlewingskenner Lars Fält saamgespan om met dié een vorendag te kom.

Dit is eintlik ’n veeldoelige stuk buitelewegereedskap, maar danksy die beskermende staalring onder die kop kan jy die hout vir jou kampvuur met gemoedsrus kap.

Die nuttige byl weeg net 500 g en die handvatsel is 37 cm lank.

Prys R2 670 by Just Like Papa.

Ry & Sleep sê Jy kry ook ’n netjies leerhuls waarin jy jou byl bêre.

Leatherman Wave Plus

Mesmoertang… én meer Hierdie legendariese Amerikaanse handelsnaam is sinoniem met innoverende veeldoelige gereedskap wat in die palm van jou hand pas.

En dit wil amper lyk of die Wave Plus omtrent alles het behalwe ’n paar rugbytoks.

Hy het nie minder nie as 18 gebruike vir die voornemende nutsman en ywerige kampeerder.

In die toe posisie vou 4 meslemme oop, terwyl daar nóg 7 is wanneer jy hom oopvou.

Die gereedskap sluit in ’n klein, middelslag en groot skroewedraaier, botteloopmaker, blikoopmaker, saag en skêr.

Prys Vanaf R2 575 by Awesome Tools.

Ry & Sleep sê Leatherman-produkte word vir 25 jaar gewaarborg.

Red-E Rsp80 8 000 mAh-kragbank met sonpaneel

Kry krag uit die son Enige kragbank wat sy sout werd is, behoort jou minstens twee herlaaisiklusse te gee wanneer jy jou foon of tablet inprop.

Met hierdie model van Red-E kan jy albei gelyktydig herlaai, want die kragbank het twee 2,1 A-5 V-sokke.

Teen 156 x 85 x 28 mm is hy nogal groot, maar hy kom met vier ingeboude sonpanele.

Prys R900 by Outdoor Warehouse.

Ry & Sleep sê Op ’n sonnige dag behoort die kragbank binne ongeveer 12 uur volgelaai te wees.

Kry dit hier

Awesome Tools

Camp & Climb

Just Like Papa

NatureHike

Outdoor Warehouse