
Gerrie van Eeden het by Robby Cohen, die eienaar van Rustguard Panelbeaters in Paardeneiland, Kaapstad, gaan inloer om te kyk wat gedoen kan word.
Waar metaal in aanraking met suurstof en water kom, vind oksidasie plaas. In ’n ideale wêreld is die verf op metaal veronderstel om die roes te keer. ’n Ander opsie is om die metaal te laat galvaniseer, maar dit kan die voertuig se koste aansienlik hoër maak. En selfs aluminium is nie heeltemal teen roes bestand nie.
Byna elke voertuig het een of ’n paar spesifieke plekke waar dit gewoonlik roes. Van die algemeenste plekke is rondom die voorruitrubber, agter die enjin tussen die enjinruim en kajuit, die onderkante van deure en die geute langs die dak.
Enige plek waar die voertuig gestamp en die verf van die metaal afgeskraap is om die rou metaal te ontbloot, is ook ’n broeiplek vir roes.
Die rede vir die voorkoms van roes op dié spesifieke plekke is dat dreineringsgaatjies vir reënwater en kondensering soms verstop raak. Verfwerk is ook nie altyd so goed is soos wat dit behoort te wees nie en rou metaal word aan elemente blootgestel. Soms is die rou metaal nie behandel met ’n roeswerende onderlaag of iets soortgelyks voordat iets soos ’n lig of buffer daaroor vasgesit is nie en dan het roes ’n lekker plek om anker te gooi.
Roes kan op verskeie maniere behandel word. Sit genoeg tyd hiervoor opsy, want dis nie iets wat jy op ’n Vrydagmiddag ná werk aanpak nie. As jy dit ordentlik wil doen, is dit ’n intensiewe proses.
Die aanwending van stopverf is ’n algemene praktyk, maar soms word dit verkeerd toegepas. In party gevalle word roesgate en duike bloot met stopverf toegeplak en daaroor geverf.
Die probleem hiermee is dat die stopverf nie veronderstel is om gate toe te stop nie, maar eerder om ongelykhede gladder te maak.
Moenie kortpaadjies vat nie, want die roes sal bloot terugkom rondom die stopverf.
Volg dié 9 stappe en maak seker jy beveg die roes op die regte manier:
1. Bepaal die omvang van die roes
Daar is ongelukkig net een manier om dít te doen: maak die deel met roes skoon en haal alles moontlik af wat nog roesplekke kan versteek.
2. Skuur dit goed
Skuur al die roes en metaal skoon sodat jy presies kan bepaal watter deel jy moet regmaak en hoe diep die skade loop. Alle roes wat nie afgeskuur kan word totdat skoon, blink metaal oorbly nie, moet met ’n hoekslyper uitgesny word. Daar moet slegs roesvrye metaal oorbly op die plekke waar gesweis gaan word.
3. Verf roesomskakelaar op
Daar sal moontlik steeds klein kolletjies roes op die metaal oorbly, maar as dit nie die metaal deurtrek nie, kan roesomskakelaar daarop geverf word voor jy enigiets anders doen.
4. Kry nuwe metaalplaat
Indien die area nog struktureel reg is, kan jy ’n skoon stuk plaat daarin sweis. As jy sweis, is die belangrikste dat dit skoon metaal moet wees. Daar moet geen tekens van roes op enigeen van die twee dele metaal wees nie.
5. Vorm die plaat.
Om ’n nuwe stuk plaat in te sweis, is dit nodig dat die plaat gevorm word om nes die oorspronklike stuk metaal te lyk. ’n Hamer en of ’n aambeeld kan gebruik word om die plaat te vorm.
Waar die metaal heeltemal uitgesny en ’n ander paneel ingesit word, moet die nuwe paneel ook voorberei word om skoon en roesvry te wees. Die nuwe stuk moet ’n paar millimeter groter gesny word as die gat wat dit moet toemaak. Dit laat jou genoeg ruimte as jy wil sweis.
Die nuwe metaal moet ordentlik aan die bestaande metaal vasgesweis word. Dis belangrik om roes in die toekoms te kan vermy.
7. Skuur dit plat
Nadat dit klaar gesweis is, moet die metaal weer so plat en glad as moontlik geskuur word. Dit is egter nie moontlik om dit heeltemal plat te skuur nie omdat twee plate bo-op mekaar vasgesweis is en daarvoor is spesiale stopverf (body filler) nodig.
8. Sit net genoeg stopverf op
Stopverf moenie dikker as ’n halwe millimeter aangewend word nie. Die doel is slegs om die area gelyk te maak.
9. Skuur weer
Nadat die stopverf droog geword het, moet dit weer afgeskuur word voordat die onderlaag en bolaag opgeverf word.