Illustrasies: Dominic Wienand

Dít is presies wat vyf jaar gelede met François Haasbroek, ’n joernalis by ons sustertydskrif Weg, gebeur het. Sy kollegas terg hom vandag nog dat hy nie die verskil ken tussen petrol en diesel nie, ondanks sy verweer dat dit nie sy skuld was nie. Voor ons hoor wat François gedoen het omtrent sy tameletjie, moet ons eers gesels oor die verskille tussen dié twee soorte brandstof, en ons praat sommer ook oor of jy 500 ppm-diesel in ’n enjin kan gebruik wat slegs vir 50 ppm goedgekeur is.

Petrol en diesel

Albei word basies op dieselfde manier gestook, en dit werk soos volg: Ruolie word verhit en water dan daarby bygeroer, en die gevolglike stoom maak dit makliker om die olie te ontsout. Hierdie waterige “skoon” ruolie word dan verder verhit tot ’n temperatuur van tot 600 ºC tot dit in ’n superwarm gas omskep word wat na ’n distillasietoring gepomp word.

Die toring het verskeie vlakke (of kompartemente) waardeur die warm gas styg of daal. Die gas, wat tot in die bopunt van die toring verdamp, het intussen afgekoel tot sowat 20 ºC en is nou vlugtig genoeg om as gas (LPG) gebruik te word – dit is nou die gas wat jou Cadac-gasbraaier gebruik, die een waarmee jy soggens eiers, spek en varkworsies langs Satara se heining gaarmaak.

In die boonste kwart van die distilleringstoring – waar die temperatuur gedaal het tot gemiddeld 150 ºC – word ’n ligte vloeistof uitgepomp wat deur verdere prosesse in nafta (of keroseen) en petrol omskep word.

In die middel van die distilleringstoring is die temperatuur ongeveer 300 ºC en dis hier waar jy ’n swaarder vloeistof uit die toring tap wat later in diesel omskep sal word.

In die boonste laag van die onderste kwart van die tenk word olies getap (enjinolie of swaargasolie) wat gebruik word as brandstof vir onder meer vragskepe, en heel onder lê teer waarmee snelweë gebou word.

Die Suid-Afrikaanse brandstofvervaardiger Sasol doen dinge effens anders: Pleks daarvan dat ruolie verhit en ontsout word voordat dit na ’n distilleringstoring gepomp word, word steenkool in ’n metielgasoond superverhit tot dit ’n gas – dit word syngas genoem – afgee wat verder behandel word deur die Fischer-Tropsch-proses.

Die breë werking van die Fischer-Tropsch-proses is geen staatsgeheim nie, maar die fyner details sal jy byvoorbeeld nie op Wikipedia raaklees nie. Met dié proses kan Sasol nie net brandstowwe uit steenkool distilleer nie, maar ook polipropileen, akriel, butaan, etiel en eksotiese chemikalieë soos 1-hekseen vervaardig wat onder meer in parfuums en kosgeurmiddels gebruik word.

Sasol maak nie net op steenkool staat vir sy produkte nie. Sy hipermoderne Natref-olieraffinadery in Sasolburg is bekend vir sy uitstekende gehalte brandstof wat uit mediumgewigolie gedistilleer word. Hierdie olie lewer ’n brandstof wat 70% skoner is as wat raffinaderye aan die kus kan produseer uit doodgewone swaarolie.

50 ppm of 500 ppm?

Mike Reitz, ’n leser van die Strand, vra of hy 500 ppm-diesel in sy 2015 Ford Ranger XLS 3.2 4x4 outomaties kan tap aangesien 50 ppm-diesel nie oral op sy reise beskikbaar is nie.

Soos baie ander motoriste is Mike bekommerd dat die gebruik van die “vuiler” diesel kort- of langtermynskade kan aanrig aan ’n enjin wat eintlik ontwerp is om net 50 ppm-diesel te gebruik. Die goeie nuus is dat jy wel 500 ppm-diesel kán gebruik sonder dat die enjin sal kalf, maar net op die kort termyn. Die afkorting ppm staan vir “parts per million” en dui op die aantal swaweldeeltjies, wat dus beteken 500 ppm-diesel bevat tien keer méér swawel as 50 ppm-diesel.

Swawel is van nature deel van ruolie, en swaargasolie wat deur vragskepe gebruik word, kan tot 33 000 ppm- swawel bevat. Wanneer swawel in aanraking kom met nikkel (die metaallaag aan die binnekant van jou enjin) vorm dit ’n soort smeermiddel wat jou enjin teen slytasie beskerm. As die swawelinhoud in diesel verlaag word, moet ’n brandstofvervaardiger die natuurlike smeermiddel met iets anders vervang.

Maar waarom moet die swawelinhoud verlaag word? Diesel is ’n groot sondaar wat besoedeling betref, en die partikels wat uit jou trokkie se uitlaatpyp kom, is kankervormend. Gesondheidsorganisasies het Eerstewêreld-regerings oortuig om die verkoop van enjins wat hoë vlakke stikstofoksied en partikels afskei te verbied.

Dieselenjins moet deesdae katalisators en ander filtreerders gebruik om die giftige stowwe uit die uitlaatgasse te verwyder. Swawel beskadig dié filters, en dít is waarom die vlak daarvan verlaag moet word.

Enjins wat ontwerp is om sonder swawel te werk (of baie min daarvan) kan ook deur hoë vlakke van swawel oorrompel word, en dan breek daardie swawel jou enjinolie se klewerigheid af wat dan weer tot groter slytasie lei. In ’n neutedop hoef jy bloot die volgende te weet: 500 ppm-diesel gaan jou enjin se katalisator mettertyd opvreet en die mensdom in kankergevaar stel, en dit gaan veroorsaak dat jou enjinolie elke 10 000 km eerder as elke 20 000 km vervang moet word, en dan vergiftig jy die aarde. Indien jy net so af en toe 500 ppm intap, gaan absoluut niks slegs gebeur nie.

As jy egter heeldag en aldag 500 ppm ingooi, wys dit dat jy min ag slaan op die natuur en die gesondheid van jou medemens.

FRANÇOIS SE GLIPSIE

Ek het in 2014 met ’n Hyundai iX35 deur Namakwaland en die Weskus gereis en op Garies stilgehou vir brandstof. Die Hyundai se tenk was nog half, maar omdat dié deel van die Weskus nie baie vulstasies het nie, het ek besluit om eerder vol te maak.

Die joggie moet my verkeerd gehoor het, want hy het petrol in die halfvol dieseltenk getap en ek is niksvermoedend daar weg. Die petrol moet bo-op die digter diesel gedryf het, want ek het sonder voorval tot op Hondeklipbaai, sowat 100 km van Garies af, gery.

Die volgende dag toe ek die kar by die vissersdorpie se hawe probeer aanskakel, het ek skielik besef daar’s fout. Die enjin het geprut en gestotter, maar hy het darem geloop.

Eers was dit nie mooi duidelik waarteen die enjin protesteer nie, maar ek het snuf in die neus gekry toe ek blou rook gewaar en petroldampe ruik. Ek het die kwitansie nagegaan en gesien ek het vir petrol betaal pleks van diesel. Daar is nie ’n motorhawe op Hondeklipbaai nie, maar twee vissermanne het nader gestap en aangebied om te help.

Toe hulle hoor daar’s petrol in die dieseltenk, het hulle die Hyundai aan die regterkant met ’n domkrag gelig, ’n stuk tuinslang deur die vulgat links tot op die laagste punt van die tenk gedruk en hom leeg gesuig.

As loon vir hulle hulp het ek die nagenoeg 30 l besoedelde petrol geskenk vir hulle skuit. Ek het ’n kan vol diesel by ’n brandstofsmous op die dorp gekoop en in die Hyundai gegooi, en dit was genoeg om my by Kleinsee te kry waar ek die tenk kon volmaak – dié slag het ek doodseker gemaak hulle tap diesel in.

Op die res van daardie reis het ek honderde kilometer afgelê sónder voorval, en sover ek weet, loop daardie Hyundai vandag nog.

DOKTER-DOKTER: Twee vissermanne wie se hande vir niks terugstaan nie, drei­neer die laaste bietjie petrol uit François Haasbroek se diesel-Hyundai.

Het François die regte ding gedoen?

Ons het met ’n werktuigkundige gesels en hy glo nie daar sal blywende skade wees nie. Hy meen wel François moes eintlik ook die brandstofpomp gedreineer het, hoewel die bietjie petrol in ’n dieselenjin nie skade sal aanrig nie.

As François besluit het om die hele tenk met petrol leeg te ry was die kanse goed dat die silinders beskadig sou word, en dan sou die enjin herbou moes word.

As die situasie andersom was en François het diesel in ’n petrolenjin gebruik, sou daar volgens ons bekwame werktuigkundige selfs minder rede tot kommer gewees het. Die ergste wat dan kan gebeur, is dat jy die petrolfilters, olie en sommige sensors moet vervang, maar die werklikheid is dat ’n dieselpomp se tuit nie eens in die vulgat van ’n petrolvoertuig sal pas nie.

Op die brandstofvervaardiger BP se webblad is daar aanwysings oor wat jou te doen staan as die verkeerde soort brandstof in jou motor beland – en ook hulle beaam dat daar geen rede tot paniek is nie.

Die kans op enjinskade is betreklik laag, volgens BP, mits jy die verkeerde brandstof so gou as moontlik verwyder.

Die AA en die versekeringsmaatskappy MiWay se webblaaie verskil egter hiermee en voer aan dat ’n meganiese katastrofe en geldelike verlies onafwendbaar is.

Die Britse televisieprogram Fifth Gear het ’n eksperiment uitgevoer waarin hulle 5 l diesel in ’n petrolaangedrewe motor tap. Hulle het ’n draai gaan ry en die motor het gestotter en gesluk, maar hy kon darem ry. (Hulle moes Vin Diesel gebruik het, dán sou jy ’n ding sien! – Red.) Ná die rit het hulle die tenk vol petrol getap en die kar het na normaal teruggekeer.

Werktuigkundiges kon niks fout vind nie; selfs die katalisator was 100%. Fifth Gear se manne het daarna 5 l petrol in ’n dieselaangedrewe motor getap. Die kar het eers gaaf gery – hy’t selfs sterker getrek – maar mettertyd ook begin stotter en rook.

Nadat hulle die tenk vol diesel getap het, was die kar weer doodnormaal en sonder skade. Bygesê, die motors wat Fifth Gear getoets het, was uit die jare negentig en dis moontlik dat moderne petrol- en dieselenjins nie so gehard is as enjins uit daardie dae nie.

’n Bietjie geskiedenis

Etlike miljoene jare gelede, toe plankton en alge die dominante lewe op aarde was, het hierdie wesens gelewe en gesterwe en hulle oorskot op die seebodem agtergelaat.

Die organiese materiaal is met sediment bedek, en soos die aardkors se plate rondgeskuif het, het enorme reservoirs vol organiese materiaal ondergronds versamel – en dié materiaal het mettertyd ontbind tot ruolie.

Party van die reservoirs was vlak onder die aarde waar vroeë beskawings soos die antieke Babiloniërs daarby kon uitkom en vir brandstof te ontgin vir hulle lanterns.

Moderne petroleumvervaardiging het egter eers in 1846 begin.

  • 1846 Die Kanadees Abraham Gessner vervaardig keroseen uit steenkool.
  • 1854 Die Pool Ignacy Lukasiewics maak keroseen uit ruolie.
  • 1858 Die Kanadees James Williams boor die eerste olieput.
  • 1920 Die Suid-Afrikaner P.N. Lategan stel voor olie kan uit steenkool gemaak word.
  • 1950 Sasol word op die been gebring om olie uit steenkool te produseer.
  • 1960 OPEC, die beheerliggaam vir 14 olieproduserende lande, word gestig