
Geen voertuigvervaardiger kan dit bekostig om ’n reputasie te kry dat sy produkte gevaarlik is nie. Daarom bestee die meeste van hulle miljoene om hulle rygoed veiliger te maak met frommelsones, lugsakke en ander tegnologieë.
Selfs buffers en enjinkappe word deesdae ontwerp om beserings aan voetgangers tot die minimum te beperk. ’n Bosbreker steur hom egter min aan die welsyn van voetgangers. Dit is ’n ongevoelige feit, maar as jy laatnag ’n bees op ’n verlate pad tref, is jou kans om te oorleef aansienlik beter as jou voertuig ’n bosbreker het.
Dít is die primêre doel van hierdie stuk toerusting.
Net soos voertuigvervaardigers wil die ouens wat bosbrekers maak, ook nie hê hulle produkte moet as gevaarlik beskou word nie, en daarom bestee party van hulle ook groot geld om seker te maak hulle bosbrekers verhoed meer skade as wat dit aanrig. Buiten dat dit die insittendes van die voertuig beskerm, word die voertuig self ook teen kleinwild beskerm.
Niemand is lus om twee dae lank op ’n dorre vlakte tussen Purros en Orupembe te sit met ’n gat in die verkoeler nie. Jy’t ook ’n stewige plek nodig om ’n wenas, kolligte en herwinningspunte te monteer. En ’n bosbreker bied gewoonlik ’n beter naderhoek as ’n standaardbuffer.
Vroeër jare het ’n werkswinkel bloot ’n stuk staal gevorm en aan jou voertuig se onderstel vasgebout of -sweis. Daardie eerste bosbrekers was só stewig dat dit ander voertuie in ’n botsing behoorlik opgekerf het, amper soos ’n biltongmes.
Met die koms van lugsakke het dié bosbrekers ook veroorsaak dat die lugsaksensors in ’n botsing ’n verkeerde lesing gee en sodoende veroorsaak dat die lugsakke onnodig ontplooi, of soms glad nie.
In ons artikel oor die Ford Ranger FX4 (Weg Ry & Sleep #2) het ons genoem dat dié voertuig met sewe lugsakke spog wat hom ’n 5 ster-veiligheidsgradering in die NCAP-botstoetse besorg het. Daarop het Thinus Potgieter van Kaapstad gereageer...
Thinus se brief
Wat my dronkslaan, is die feit dat ’n vervaardiger al die lugsakke vir veiligheid insit om ’n 5 ster-NCAP-veiligheidsgradering te kry, en dan kom Suid-Afrikaners en sit bosbrekers op.
Eerstens is dit dodelik vir voetgangers, en tweedens beïnvloed dit die veiligheidseienskappe van die voertuig. Dit behoort verbied te word op openbare paaie.
Dink net as een van dié voertuie ’n familielid tref? Ek sal graag die Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde se mening hieroor wil hoor – ook of hulle al so ’n toets oorweeg het.
Ons het die SABS hieroor gekontak, maar nadat ons van bakboord na stuurboord gestuur is en geen beslissende antwoord kon kry nie, het ons ’n kenner van die padverkeerswet genader om te hoor wat die gereg oor bosbrekers sê.
Wat sê die wet?
Alta Swanepoel van Alta Swanepoel & Vennote, ’n regskonsultant vir die departement van vervoer, sê: “Daar was al ’n hele paar keer voorgestelde wetgewing oor bosbrekers, maar dit is nooit deurgevoer nie. Die volgende regulasie kom uit Europese wetgewing.”
EC-regulasie 78/2009 bepaal die vereistes vir die soort goedkeuring van motorvoertuie rakende die beskerming van voetgangers en kwesbare padgebruikers. Dit is belangrik om daarop te let dat alle standaard- en pasgemaakte beskerming vir die voorkant van ’n voertuig wat ná 21 Mei 2007 vervaardig is, ’n E-stempel moet vertoon.
Daarsonder mag die voertuig nie vir padgebruik geregistreer word nie. Ná registrasiegoedkeuring moet voertuie voldoen aan die vereistes soos uiteengesit in die padverkeerregulasies oor die konstruksie, toerusting en gebruik van voertuie (S.I. nr. 190 van 1963).
Artikel 32 bepaal dat ’n voertuig geen bykomstige voorwerp in ’n posisie mag hê waar dit enige persoon wat in ’n botsing met ’n voertuig betrokke is, kan beseer nie, tensy daardie voorwerp geen redelike gevaar inhou om besering te veroorsaak nie.
Volgens artikel 96 moet alle voertuie wat in die openbaar gebruik word, só vervaardig, onderhou en gebruik word dat dit geen beserings aan enige persoon veroorsaak nie. Eienaars of bestuurders van voertuie wat die vereistes verontagsaam, mag skuldig bevind word aan ’n oortreding onder afdeling 11 van die 1961-padverkeerswet soos gewysig.
Kortom, jy mag nie ’n bosbreker aan jou trokkie vasbout as dit iemand ernstig kan beseer nie. Dié wetgewing het nog nie sy pad na Suid-Afrika gevind nie, maar aangesien ons deurentyd Europese wetgewing aanneem, is dié regulasie moontlik op die horison.
Alta noem ook dat die tarragewig van jou voertuig gewysig móét word as ’n mens ekstra goed permanent op jou voertuig monteer. As jy byvoorbeeld ’n swaar staalbosbreker laat aanbring, moet jou voertuig wéér geweeg word – en as dit skielik in ’n hoër lisensiekategorie val, gaan jy meer lisensiegeld moet betaal.
Ook Danny Eldridge van Port Elizabeth het vir ons geskryf. Hy was in ’n botsing waarin een voertuig met ’n bosbreker toegerus was en die ander nie.
Danny se brief
Ek was in Desember 2017 betrokke in ’n kop-aan-kop-botsing met ’n voertuig wat op die Zuurbergpas aan die verkeerde kant van die pad gery het. Dié voertuig, ’n Ford Kuga, het my 1999 Toyota Prado 3 l-diesel teen ’n spoed van tussen 30 km/h en 60 km/h getref. My Prado se bufferstaaf is met 10 mm-vlekvrye staal versterk en die skade aan my voertuig was relatief min.
Met die Kuga was dit ’n ander storie. Ook: Die Kuga se lugsakke het ontplooi, maar die Prado s’n nie. Was dit as gevolg van die versterkte bufferstaaf? Dalk omdat die stamp nie so hard was nie? Of is dit omdat my Prado feitlik stilgestaan het? Dalk is dit omdat my Prado se frommelsone nie beïnvloed is nie?
Ons het Danny se vrae (en foto’s) aan Toyota Suid-Afrika gestuur en hier is hulle reaksie...
Toyota se antwoord As ’n voertuigvervaardiger kan ons slegs Toyota se amptelike toebehore (in hierdie konteks bufferstawe en bosbrekers) aanbeveel omdat dit deur die Toyota-voertuigkorporasie (TMC) goedgekeur is vir passasiersveiligheid. Dié toebehore is ontwerp om te verseker dat dit ons voertuie geensins negatief sal beïnvloed nie.
Alle Toyota-goedgekeurde bufferstawe en bosbrekers word aan plettertoetse blootgestel waarin ons bepaal of dit versoenbaar is met lugsakke. Dít beteken ons bevestig 100% dat hierdie toebehore nie die behoorlike ontplooiing van lugsakke volgens OE-standaarde sal benadeel nie.
Toyota se amptelike toebehore is ontwerp met ’n streng fokus op kompromislose veiligheid, gewaarborgde gehalte, duursaamheid en betroubaarheid. Dit moet ook voldoen aan die owerheid se regulasies.
Toyota Suid-Afrika kan ongelukkig nie kommentaar lewer op pasgemaakte toebehore deur ander vervaardigers nie, aangesien ons geen inligting het rakende hulle vervaardigingsprosesse en toetskriteria nie.
In Desember 2017, rondom die selfde tyd as Danny se motorongeluk, het die Indiese regering bosbrekers in dié land verbied. Hulle redes was dat dit frommelsones ondermyn, lugsakke beïnvloed, gevaarlik is vir voetgangers, en dat dit buitensporige skade aan ander voertuie aanrig in ’n botsing.
Ons het dié redes en die briewe hierbo aan bosbrekerverskaffers voorgelê om te hoor wat hulle mening is.
Wat sê die bosbrekervervaardigers?
Louis van Niekerk, bestuurder by LA Sport 4WD Megastores
“Die LAS Bull Bar (bosbreker) is beslis versoenbaar met lugsakke. Ons het die bosbreker fisiek getoets om te kyk of die lugsakke ontplooi volgens die voertuig- vervaardiger se spesifikasies, en dit is wel die geval.”
Oor die gevaar vir voetgangers sê Louis: “Dit kan albei kante toe gaan. Dit kán voetgangers doodmaak, maar dit kan ook die bestuurder en insittendes van ’n voertuig baie meer beskerm.
"As jy in Afrika ry en jy tref ’n dier wat vry loop, sal dit nie net jou voertuig beskerm nie, maar ook jou gesin. Ons bosbreker is só ontwerp dat dit die voorwerp wat jy tref, van jou voertuig af sal wegstamp. Dit verminder dus die gevaar dat die dier of voorwerp wat jy tref, deur die windskerm kom en in die proses die insittendes beseer.”
Mic van Zyl, eienaar van Ironman 4x4 in Suid-Afrika
“My bosbrekers is beslis lugsakversoenbaar. Ironman is ’n Australiese produk en dit is wet vir enige bosbreker wat in daardie land gemaak en verkoop word om versoenbaar te wees met lugsakke.
"Bosbrekers soos ons hulle ken, is al ’n geruime tyd in Europa onwettig. Maar Skandinawiërs wat lang afstande in die donker moet ry, se lewens word deur dié wette in gevaar gestel.
"As ek self moet kies met watter bakkie ek raakgery moet word, een met ’n bosbreker of een sonder, kies ek naturlik die een daarsonder. Ek wil egter glad nie raakgery word nie en daarom drentel ek nooit blindelings oor die pad nie. Ek was al meer as een keer in ’n voertuig wat teen ’n spoed ’n dier getref het. Ek kan absoluut bevestig, ’n bosbreker red lewens in so ’n geval.”
Hoe werk lugsaksensors?
’n Lugsak is ’n belangrike veiligheidskomponent, maar dit speel tweede viool ná sitplekgordels. As jy nie vasgegespe is nie, help ’n lugsak nie veel nie; trouens, dit kan jou beserings vererger.
Lugsakke ontplooi wanneer sensors in die bakwerk meet dat iets katastrofies besig is om plaas te vind. Die eenvoudigste lugsakstelsels gebruik twee swaartekragmodules in die neus van ’n voertuig (gewoonlik aan weerskante van die verkoeler) wat meet dat jy in ’n oogwink tot stilstand gekom het.
Dié modules bestaan dikwels uit ’n buis met ’n magneet, ’n koeëllaer en ’n skakelaar. In ’n harde botsing sal die koeëllaer van die magneet losruk en teen die skakelaar tik. Dan word ’n sein na die lugsakrekenaar gestuur wat om die beurt kyk of die sitplekgordel ingeknip is en die lugsak dan laat ontplooi.
Duurder lugsakstelsels het talle swaartekragsensors reg oor die bakwerk en gebruik ook sensors wat die vervorming van die bakwerk monitor sodat die lugsakrekenaar presies weet hoe, waar en wanneer ’n betrokke lugsak ontplooi moet word.
’n Lugsak wat ontplooi, is geen grap nie. Jy kan hom beslis nie oprol en terug in die stuurwiel druk vir volgende keer nie, want hy ruk jou stuurwiel uitmekaar – en die res van die binneruim ontgeld dit ook lelik as die gordyn- en passasierslugsakke ontplooi.
’n Lugsak wat afgaan, veroorsaak dikwels ook liggaamlike beserings soos ’n gebrande vel, ’n gebreekte neus of ’n blou oog, en vir ’n klein kind wat voor langs die bestuurder sit, kan dit nóg gevaarliker wees, want dit kan die kind se nek breek.
In sekere motors kan jy juis om dié rede die voorste passasierslugsak afskakel. Lugsakstelsels is derhalwe só ontwerp dat hulle slegs in uiterse toestande ontplooi word. Jy wil nie hê hy moet om dowe neute afgaan nie, want hoewel hy jou lewe gaan probeer red, gaan hy jou ook ’n pak slae gee