Deel

Dikwiel stryk probleme uit

akkreditasie
Die oplossings vir twee kampeerders se probleme het gelê in ’n knortjorwiel en die pote van ’n ou strykplank.

Rol die dikwiel

Jaco Denysschen van Rusternburg: Ek het vir ons ’n Jurgens Oryx gekoop, maar was van die begin af nie regtig beïndruk met die enkelneuswiel wat ’n mens standaard op hom kry nie – veral op gras en sand is dit moeilik om jou wa met só ’n smal wiel rond te beweeg. 

Ek is terug na Jurgens toe en het vir die verkoopsman gesê die enkelwiel gaan nie vir my werk nie. Hulle het hom teruggevat en vir my ’n dubbelwiel gegee, waarmee ek aanvanklik meer tevrede was. Ek is egter sterk op pad pensioen toe, het onlangs ’n rugoperasie gehad en het sommer gou besef die dubbelwiel is nie die antwoord nie, al was dit stukke beter as die enkelwiel.

Neuswiel
Neuswiel

Toe besluit ek om self ’n plan te maak. Ek het ’n 100 mm breë knortjorwiel in die hande gekry en dié in die plek van die dubbelwiel gesit. Ek het die middelste plaat in die passtuk vir die dubbelwiel uitgesny, dit netjies gemaak en met ’n stuk platstaal (50 mm) versterk. Die nuwe wiel sit nou ordentlik op sy plek en my wa kan nie makliker skuif nie – op gras óf op sand.

Maak droog

Droogmaakrak
Droogmaakrak

Erika Potgieter van Kemptonpark: Ons kamp graag en ons was op soek na ’n wasgoedlyn. Ons het in baie kampwinkels rondgekyk vir ’n nuwe een, maar selfs die goedkoopstes was in die omgewing van R700 elk. (Hierdie artikel is in 2016 geplaas).

Die blad vam my ou strykplank by die huis was al gaar en ek was op die punt om hom weg te gooi. My man, Andrew, het met daardie strykplank in sy motorhuis verdwyn en ’n rukkie later met dié wasgoedlyn uitgestap. Hy het basies twee plaatjies aan die onderskeie bopunte van die pote vasgebout, gaatjies in hulle geboor en tou deurgeryg. Siedaar! Dit lyk netjies en vou lekker plat op, wat beteken hy is nommerpas vir die pakslag.


Hierdie artikel het oorspronklik in Wegsleep #90 (Julie 2016) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.