Die instandhouding van jou voertuig behels die versorging van ál sy komponente… nie net die gewone items wat vervang word wanneer jy hom invat vir ’n diens nie. Die battery is iets wat gereeld nagelaat word, waarskynlik omdat hy net elke paar jaar of so vervang moet word.

Die nasionale inperking en gepaardgaande reisbeperkings het nie juis gehelp nie en met duisende kampeerders wat by die huis vasgekeer was, het batterysorg dikwels agterweë gebly. Kort voor lank moes bure, ooms, swaers en neefs mekaar bel vir oorleikabels of om die kar aan die brand te stoot.

Hansie Myburgh het vir ons ’n e-pos gestuur en raad gevra oor hoe ’n mens jou sleepvoertuig se battery oppas wanneer jy nie kamp nie. Hier is raad.

Ry wanneer jy kan

Dit klink voor die handliggend, maar dit is regtig die beste raad. Om seker te maak jou battery bly gelaai, moet jy jou ryding elke klompie dae aanskakel en die enjin vir 10 tot 15 minute laat loop.

Dit is jou battery se eerste verdedigingslinie, maar dit is ook onnatuurlik om jou kar net in die motorhuis of oprit te laat staan en luier. Klim eerder agter die stuur in en ry gou winkel toe vir melk en brood, want dit sal sorg vir goeie lugvloei deur die enjin terwyl dit die enjinvloeistowwe sal toelaat om die optimale werktemperatuur te bereik.

’n Vinnige 20-30 minute behoort goed genoeg vir die meeste voertuie te wees.

Moenie net ontkoppel nie

Selfs met net ’n basiese begrip van hoe elektriese stelsels werk, maak dit sin dat goed soos die kar se radio, horlosie en alarmstelsel nie die battery kan leegtap as jy bloot die battery ontkoppel wanneer jy nie die voertuig gebruik nie. Dit is egter net deels waar en dit hang af van hoe oud jou voertuig is.

Moderne voertuie, veral die duurder Duitse modelle, het ingewikkelde elektroniese blikbreine en as jy bloot die battery ontkoppel, kan dit ’n nadelige uitwerking op jou motor se katoeters hê.

As jy nié met ’n ouer model ry nie, is dit ’n slim plan om te belê in ’n slimlaaier waarmee jy jou battery voltyds aan kan hou. Die slimlaaier, soos byvoorbeeld die 5 A-model van National Luna, beheer die stroom tot die minimum wat vereis word om ’n lang batterylewe te verseker. Dit sorg dat jou kar se elektronika ’n voltydse kragbron het.

Jammer, my fout

Net omdat jou battery een keer pap geraak het, beteken dit darem nie jy moet hom vervang nie. Jy moet dit waarskynlik net weer aan die gang kry, of jump start, soos die Engelse sê. Die meeste motoriste het ’n stel oorleikabels in die kattebak, maar dit beteken jy gaan moet wag vir ’n barmhartige Samaritaan om verby te kom.

Maak ook seker jy beskerm jou voertuig se elektroniese stelsel deur nie die rooi (positief) en swart (negatief) klem te verwar nie. Jou smeltdrade kan in die slag bly terwyl dit ander katoeters erg deurmekaar kan maak.

Die voertuie moet nié aan mekaar raak nie en sit die rooi klem dan op die battery se positiewe pool. Los die swartklem ongekonnekteer. Maak die klemme aan die skenkerbattery vas en vind dan ’n goeie gronding vir die swart klem, soos ’n kaal stuk metaal waar daar nie bewegende onderdele is nie.

As jy die swart klem aan die battery koppel, kan dit daartoe lei dat van die walms aan die brand slaan.

Dit is ook ’n goeie idee om te belê in ’n draagbare laaistelsel wat genoeg woema het om nuwe lewe in ’n dooie battery te blaas. Sommige produkte is kleiner as ander. Die Avanty is bonkiger as sy mededingers, maar nommerpas vir avontuurreisigers.

Gelaai kan hy jou kar tot soveel as 30 keer aan die gang kry en dan het hy boonop ’n ingeboude kompressor.

Pasop vir die poeier

Pasop vir die poeier
Pasop vir die poeier
Pasop vir die poeier
Pasop vir die poeier

As jou ryding vir ’n lang tydperk gestaan het en nie wil aanskakel nie, moet jy die enjinkap (of die kattebak in karre soos die E53 BMW X5) oopmaak en die battery bekyk. As daar ’n poeier om die battery se negatiewe pool opgebou het, is daar ’n goeie kans dat jy met sulfasie te doen het.

Sulfasie is die proses waarby sulfaatkristalle vorm en op die batteryplate aanpak. Dit lei tot ’n wit laag wat die vloei van elektrone beperk. Volgens John ‘JR’ Coetzee, produkbestuurder van die Probe-groep se battery-afdeling, is die proses soortgelyk aan wanneer kristalle in heuning vorm.

“Wanneer die stroomspanning laer as 12,4 V daal omdat jy jou ryding vir lank nie gebruik het nie, neem sulfasie die aktiewe materiaal oor. Wanneer jy jou voertuig gebruik is die aktiewe materiaal deurgaans in kontak met die elektroliet, of te wel batterysuur, en dit sorg vir die elektriese energie. Wanneer die aktiewe materiaal onder ’n laag kristalle is, is daar baie min kontak met die elektroliet. Dit het tot gevolg dat jou battery nie op sy beste werk nie,” sê John.

Hoe langer ’n battery met ’n stroomspanning van minder as 12,4 V staan, hoe vinniger vind sulfasie plaas. Dit kan later daartoe lei dat jy die battery moet vervang. John sê sommige produkte beweer hulle kan die sulfasieproses omkeer en dat dit moontlik is om die kristalle af te breek, maar waarsku dat dit ’n gewaagde besigheid is. Dit is omdat batterye deesdae geseël is, wat beteken jy moet dit teen ’n hoë spanning in ’n hoë temperatuur laai.

Die vervaardigers van sommige herlaaistelsels beweer ook hulle het die chemiese oplossing om die proses om te keer, maar dit hang af van hoe ernstig die kristalle op jou battery aangepak het. John sê ook daar is nie genoeg bewyse om met sekerheid te sê die omkeringsproses werk 100% nie.

As jy als probeer het

Wanneer jou battery finaal die gees gegee het en jy ’n nuwe een moet koop, is dit nie bloot ’n geval van een van dieselfde grootte aanskaf nie.

“Daar is heelwat innovering in die motorbedryf en met karre wat deesdae met knoppies aanskakel, moes batterytegnologie noodgedwonge byhou. Veral motors wat met knoppies aan- en afskakel het ’n spesiale soort battery nodig ter wille van die vereistes van die aanskakelaar,” sê John.

Die meer verfynde aanskakelstelsels vereis ’n glasmatbattery, of te wel een waar die loodsuur met kleppe gereguleer word. In dié battery is die verdelers van politeen vervang met glasmat wat die elektroliete absorbeer. Afgesien van die aanskakelvereistes van moderne voertuie wat verander het, vereis die vervaardiger ook dat die stroom deurgaans vloei.

In sommige voertuie, soos die E53 BMW X5, is daar ’n positiewe en negatiewe voerpunt in die enjinkap sodat jy die stroom kan volhou terwyl die battery vervang word.

Die jongste voertuigtegnologie vereis dat jy al die foutkodes herset deur in wese die nuwe battery in die voertuig te registreer. Dit is om te verseker dat die battery aan al die vereistes vir die elektronika voldoen.

Word deel van die Weg-wêreld
Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook