Foto’s James Garaghty
Een van die eerste dinge wat jy doen wanneer jy by die kampterrein opdaag, is om jou lêplek vir vanaand gereed te kry. Enige van hierdie elf bekostigbare slaapsakke sal dié takie aansienlik vergemaklik. Hulle wissel in grootte, vorm en temperatuurgradering, maar een van hulle behoort nommerpas vir jou te wees.
Oztrail Nullabar-dubbelslaapsak
Kom ons gaan lê, Mamma
As jy en jou ander helfte daarvan hou om styf langs mekaar te slaap – en die een snork die ander nié uit die kooi uit nie – is hierdie die slaapsak vir julle. Omdat sy bolaag van katoen is, is daar ook nie die geraas wat iets soos poliëster maak as jy in die middel van die nag omdraai nie.
Die voering is van Skotse geruite wolstof wat sag en gemaklik is.
Oztrail sê jy kan heel rustig slaap teen die vriespunt, en dit selfs waag in -5 ºC, veral omdat daar twee lywe is wat hitte afgee.
Prys: R2 420 by Takealot.
Afmetings: 2 150 x 1 600 mm
Gewig: 4,7 kg
K-Way Traverse 2 Cowl-slaapsak
Veeldoelig
Hierdie slaapsak van Cape Union Mart is geskik vir alle weerstoestande en is veral op stappers gemik – hy is lekker lig en bevat 280 g mikroveselvoering per vierkante meter (280 gsm).
Hy is 100 mm smaller by die voete as by jou skouers, en daar’s ’n kappie bo wat help teen erge koue. Die vervaardiger sê jy sal gemaklik slaap in temperature van 10-15 ºC.
Prys: R700 by Cape Union Mart.
Afmetings: 2 200 x 750 mm
Gewig: 1,9 kg
Camp Master Expedition 300C
Swart en rooi
Dit is een van die topprodukte in Camp Master se slaapsakreeks. Die 300C is ook een van die duurder keuses, maar met goeie rede. Camp Master sê jy kan gemaklik teen -5 ºC slaap en selfs temperature van tot -15 ºC oorleef danksy die 300 gsm-veselpoliëstervoering.
Prys: R700 by Makro.
Afmetings: 2 300 x 850 mm
Gewig: 2 kg
Tentco Bundu
Plaaslik en prettig
Hierdie is jou meer tradisionele soort slaapsak met sy gebruiklike reghoekige ontwerp. Met sy 350 gsm-stoffering is hy ’n dik meneer, wat beteken hy is groot, selfs opgerol in die sak. Maar jy kan in temperature van tot -3 ºC slaap sonder om koud te kry.
Prys: R500 by Camp & Climb.
Afmetings: 2 200 x 1 000 mm
Gewig: 2,5 kg
Camp Master Voyager 200E
Goedkoop en gaaf
Die Voyager is nie net liggewig nie, maar ook die goedkoopste slaapsak op dié blaaie. En met sy 200 gsm-veselpoliëstervoering is hy meer geskik vir warmer temperature – tot 15 ºC, volgens die vervaardiger.
Hy het ’n helderoranje poliësterbolaag, wat beteken jy kan maklik die goggas raaksien voor jy inkruip.
Prys: R300 by Makro.
Afmetings: 1 900 x 800 mm
Gewig: 1,2 kg
Camp Master Berg 300C
Snoesig vir slaap
Hierdie is een van die gemaklikste slaapsakke op die mark danksy die voering van Skotse geruite wolstof, soortgelyk aan dié van Oztrail se produkte.
Met sy 300 gsm-binnelaag is hy ook geskik vir temperature van so laag as -3 ºC.
Prys: R650 by Game.
Afmetings: 2 300 x 850 mm
Gewig: 2,4 kg
Oztrail Alpine View
Sneeubestand
Hier is een vir iemand wat nie skrik vir selfs die koudste weer nie, want met die Alpine View kan jy temperature van tussen -7 ºC en -12 ºC oorleef. Dit is ysig koud.
Hy het ook buise oor die ritssluiter om enige koue wat dalk daar mag inglip uit te hou, en sy voering is heerlik sag en snoesig.
Prys: R1 150 by Takealot.
Afmetings: 2 200 x 800 mm
Gewig: 2,6 kg
Oztrail Treksmart2- slaapsak met kappie
Net die kop steek uit
Hierdie slaapsak met sy kappie vou om jou soos ’n kokon, wat beteken net jou gesig gaan uitsteek as jy hom ordentlik toerits. Die materiaal is nie die dikste hier nie, maar hy is nietemin opgewasse vir temperature so laag as die vriespunt.
Prys: R1 415 by Takealot.
Afmetings: 2 200 x 570 mm
Gewig: 1,2 kg
First Ascent Amplify 900
Dun om die lyf
Dis ’n klein slaapsak wat kompak oprol, maar steeds sy man kan staan teen winterweer. Volgens die vervaardiger kan jy met gemoedsrus in temperature van tot -7 ºC slaap danksy die silwer laag tussen die bolaag en voering wat die hitte na jou lyf toe terugweerkaats.
Prys: R1 500 by Camp & Climb.
Afmetings: 2 100 x 800 mm
Gewig: 1 kg
AfriTrail Plover-slaapsak
Tevredenheid gewaarborg
Hierdie een se prys sal by baie mense aanklank vind – en dan kan jy boonop in bibberweer met hom kamp.
AfriTrail sê sy voering is van só aard dat jy selfs by die vriespunt nie enige ongemak behoort te verduur nie.
Prys: R450 by Takealot.
Afmetings: 2 300 x 900 mm
Gewig: 1,5 kg
K-Way Alpine Cowl-slaapsak
Koel komkommer
Hierdie meneer is geskik vir die koeler herfs- en wintermaande. Met die Alpine Cowl se 150 gsm-mikroveselvoering is jy doodseker jy gaan lekker slaap teen 6 ºC, maar K-Way sê jy behoort teen die vriespunt ook nie probleme te hê nie.
Prys: R1 100 by Cape Union Mart.
Afmetings: 2 300 x 800 mm
Gewig: 1,8 kg
- Makro: makro.co.za
- Game: game.co.za
- Takealot: takealot.com
- Camp & Climb: campandclimb.co.za
- Cape Union Mart: capeunionmart.co.za
Teken in en kry onbeperkte toegang tot 11 Afrikaanse tydskrifte en 35 koerante. Alles op een plek.
KIES JOU PAKKET