Dis seker nie só baie moeite nie, maar om die slotte op altwee van jou sleepwa se knippe oop en toe te sluit elke keer wat jy dit moet oopmaak, voel eintlik na dubbele werk. Dié leser Cavin Bowerman van Kaapstad het ’n oplossing.

“Ek gebruik my Venter-sleepwaentjie gereeld. Ek het eers afsonderlike slotte vir elke knip op die deksel gehad om te keer dat iemand iets uit my waentjie gaps.

“Dit was nogal ’n gesukkel om die regte sleutel te kry as jy vinnig iets uit die waentjie wil haal, veral langs die pad.

“Om die probleem op te los het ek ’n ronde ysterstaaf (6 mm dik) gevat wat effens langer as die afstand tussen die twee knippe op die waentjie is. Ek het die een punt 90° gebuig.

“Nou kan jy die staaf deur albei knippe druk en dan steek daar nog ’n stukkie aan die een punt uit wat nie gebuig is nie. Daar het ek ’n 5 mm-gaatjie geboor – groot genoeg vir ’n klein slot, pen of selfs ’n cable tie. Al wat nou nodig is, is om een sleutel saam te dra en dan kan jy maklik jou waentjie oopsluit as jy by jou kampplek aankom.”